Sandstorm saai verwoesting in Sjina

Weerkundiges het gewaarsku dat mense van sekere dorpe in Sjina dit nie na buite moet waag  nie want die hewige sandstorm afkomstig uit die woestyngebied van die land is uiters gevaarlik.

Sjina word gereeld met sandstorms uit die Gobi woestyn geteister, en vanjaar is dit glo erger en gevaarliker as ander jare, wat toegeskryf word aan die sterk wind wat die sand die lug in dryf en oor lang afstande na ander gebiede dra.

Die dorp Linze in die noorde van Sjina is die hardste getref toe ʼn toring hoë muur van sand en stof fabrieke en winkels toegegooi het en verskeie woonstelblokke letterlik toegewaai het.

Die swaar, geel-bruin sand en stof het die dorp Sondag getref, en reddingswerkers het moeite om die sand weggewerk te kry sodat mense die geboue kan verlaat. Die swak sig en die gevaar van oog en oor beskadiging het die werkers se taak verder bemoeilik, terwyl ʼn onbekende aantal motor ongelukke die paaie versper het.

Sjina sukkel gereeld in die land se lente tydperk met sterk wind en sandstorms, maar kenners reken dit is vanjaar veel erger as wat gewoonlik ondervind word.

Gedurende Maart vanjaar het Beijing sy ergste sandstorm in jare gehad, en dit het weke se harde werk gevra om die stad weer terug te bring na sy normale verloop nadat die storm bedaar het.