Ramp tref Indonesië – talle sterf

Aanhoudende, deurdringende stortreën het massas vloedwater en grondverskuiwings die afgelope paar dae veroorsaak in die geteisterde Indonesië, terwyl derduisende mense sonder huisvesting is en die stortreën moet trotseer.

Die land se rampbestuur het intussen waarskuwings uitgestuur dat die woeste reën en gevaarlike grondverskuiwings nog nie gestop het nie en dat mense baie versigtig moet wees waar hulle hulself bevind.

Reddingswerkers se taak word bemoeilik met paaie wat in riviere omskep is en so verspoel het dat dit onbegaanbaar geword het, en onbevestigde berigte lui dat meer as 150 mense omgekom het maar dat die getal nog aansienlik sal styg namate die reddingswerk voortduur.

Die tropiese Sikloon Seroja het ook Oos-Timor, die buurstaat getref waar 127 sterftes aangeteken is en die owerheid reken dit is slegs ʼn voorlopige getal aangesien die reddingswerkers nog in ʼn groot gebied hulle werk moet voortsit.

Die groot strome vloedwater wat oral te vinde is, het baie mense as vermis aangemeld, waarvan sommige selfs dood gevind is.