Ramaphosa moedig kiesers aan

Die ANC president, Cyril Ramaphosa het op die ANC se sogenaamde “Vryheidsdag” sy toehoorders aangemoedig om hulle stemreg te gebruik om mense wat nie hulle werk doen nie, te vervang.

Hy het gesê die reg om te mag stem is die wapen om ook korrupsie uit te roei in Suid-Afrika, maar ook nie gehuiwer om apartheid die skuld te gee vir wat verkeerd is in die land nie.

Die president het die toespraak gelewer in Botshabelo in die Vrystaat en gesê die stemgeregtigdes het die geleentheid om mense wat steel, nie langer te verdra in hulle poste nie, en moet vir ander kandidate stem.

Hy het ʼn beroep gedoen op kiesers om nie vir mense te stem wat besig is met korrupsie, diefstal en wanbestuur van fondse wat bedoel is om alle burgers van die land te bevoordeel nie.

As mense nie eerlik is nie, moet hulle uitgestem word, het die president gesê, wat waarnemers laat glo dat die toespraak ook sterk gerig is op sleutel persone binne die ANC wat tans onder verdenking staan, en teen die einde van die maand waarskynlik geskors sal word.