Nuwe wet kan sakelui laat vlug

Die nuut voorgestelde Wysigingswet op sogenaamde Diensbillikheid kan beteken dat sekere sakelui eerder hulle onderneming verskuif na buite die land se grense.

Die voorstel behels ondermeer dat sakelui wat nie aan die vereistes voldoen nie, ook nie besigheid met die staat sal kan doen nie, wat volgens kenners daarop neerkom dat ʼn sosialisties-kommunistiese bestel op hulle afgedwing gaan word.

Dit kan veroorsaak dat sakelui eerder hulle ondernemings sluit in Suid-Afrika en elders gaan vestig waar sulke wette nie van toepassing is nie.

Die voorstelle is die afgelope week aan die parlement voorgehou, en burgerregte organisasies waarsku dat dit die sneller gaan trek om ʼn ernstige geveg te begin wat bekwame en opgeleide mense met bepaalde vaardighede, sal dwing om die land te verlaat.

Die voorgestelde veranderings sal ook die Minister van Arbeid in staat stel om in konsultasie met betrokkenes van ʼn bepaalde sektor in die sakewêreld te besluit wat is sogenaamd diensbillikheid waaraan die sektor moet voldoen as sake met die regering gedoen wil word.