Niks in voorraad om waterlek te herstel

In ʼn ondersoek wat gedoen is by die eThekwini Munisipaliteit in Durban is gevind dat die stad se water lekkasies weens gebarste pype, nie herstel kan word nie aangesien daar geen voorraad is om die groot waterverlies te stop nie.

Die Water en Sanitasie Depot in Pinetown en in Springfield het glo geen voorraad om pype te vervang wat gebars het nie.

Bewerings word ook gemaak dat die pype bars omdat die drukking te veel is, en nou stroom water deur die strate soos jong riviere.

Daar is ook geen materiaal beskikbaar om lekke te herstel nie en die aanvraag na watermeters bly onuitvoerbaar omdat daar ook geen voorraad is nie.

Onbevestigde berigte lui dat die munisipaliteit die besoek van ondersoekers beskou as mense met ʼn politieke agenda, wat deur lede van die opposisieparty aangeblaas word, maar bewerings dat miljoene liter water reeds verlore is, het groot dele van die stad se inwoners woedend gemaak dat die vermorsing ook skade veroorsaak aan paaie en infrastruktuur.

Volgens waarnemers is die twee stoorkamers in Springfield en Pinetown sonder voorraad en staan die groot klomp rakke dolleeg.