Motor rubriek – Subaru Forester 2,5i Sport ES Lineartronic CVT

Die Subaru was en is steeds een van my gunsteling sportnuts voertuie. Die nuutste, opgekikkerde weergawe met die 2,5 liter, vier silinder Boxer kragbron onderskei dit van die vorige 2,0 liter dat daar aansienlik meer krag en wringkrag beskikbaar is. Daar is twee modelle beskikbaar naamlik die Premium en die Sport. Beide gebruik dieselfde kragbron en daar is 136 kW krag beskikbaar tussen 5800 en 6000 o.p.m. en die wringkrag is 239 Nm beskikbaar teen 4400 o.p.m. Die brandstof voorsiening in die kragbron geskied bywyse van ‘n direkte, elektroniese inspuitstelsel, met dubbel oorhoofse nokaste met vier kleppe per silinder. Die brandstofhouer neem 63 liter petrol en volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 7,6l/100 km en die topsnelheid is 188 km/u. Die versnelling van 0 tot 100 km/u geskied volgens ingeligte bronne in 10,06 sekondes.

Die twee modelle word van mekaar onderskei deur middel van oranje afwerking vir Sport aan die buitekant en ook binne in die voertuig. Die sierrooster, luginlate, montering vir die kolligte is gedoen met mat swart afwerking aan die voorkant. Langs die kant en agter is daar ook oranje afwerking te sien en die allooi wielnawe geskoei met Bridgestone Dueler H/P Sport bande met ‘n grootte van 225/5 R18 bande sorg dat die geheel prentjie, dadelik ‘n mens se aandag trek.

Deur die speke van die voorwiele is die geventileerde 294mm remskywe te sien en op die agterwiele is die 285mm geventileerde remskywe van die remstelsel te sien. Om te verseker dat die voertuig met veiligheid en gemak tot stilstand kan kom, is daar EBD en EBA hulpmiddels vir die ABS remstelsel ingebou. Deel van die veiligheidstelsel sluit in verskeie lugsakke binne in die voertuig wat as hulpmiddels dien dat sou daar ‘n botsing voorkom, is daar beskerming vir die insittendes beskikbaar.

In die wielboë en regom die onderkant van die voertuig is daar swart plastiek beskerming aangebring en dit sorg dat die bakwerk so min as moontlik beskadig word wanneer daar byvoorbeld klippe opgeskiet word. Omdat dit ‘n veeldoel voertuig is en permanente vierwiel aandrywing in plek is, kan die Subaru onder enige padtoestand en selfs op ruwe terrein gebruik word. Wat dit nog meer veeldoelig maak is die feit dat ‘n CVT ratkas aangewend word om die rat oorskakeling te doen.

Wanneer daar in die voertuig ingeklim word, trek die oranje afwerking op die middel konsole en ander plekke, dadelik die aandag. Soos reeds genoem kan die voertuig op ruwe terrein gebruik word en wanneer die terrein werklik rof raak kan die verlangde ratkiesing deurmiddel van die X-MODE skakelaar by die ratkieshefboom gedoen word. Die sitplekke is gedeeltelik met leer bedek en die bestuurder se sitplek kan elektries verstel word vir hoogte en vorentoe en agtertoe beweging. Die agterste sitplek se leuning kan in ‘n 60:40 verhouding platvou en wanneer dit gedoen word verhoog die bagasie ruimte van 376 liter na 1424 liter.’n Dikraam, drie speek stuurwiel is gepas met beheer skakelaars vir die toerusting en dit is hoogte en reikafstand verstelbaar. Alle instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer met die aanraakskerm in die middelste gedeelte van die instrumentpaneel.

‘n Wye verskeidenheid van toerusting is gepas wat insluit ‘n lugversorger, radio met stembeheer, bloutand en verskeie ander funksies, snelheidsbeheer, parkeer hulp kamera, banddruk meter, windskermveërs en hoofligte wat outomaties aanskakel.

Gerief binne en buite hierdie voertuig is nie agterweë gelaat nie. Die afwerking is van hoogstaande gehalte en padgeraas is tot die minimum beperk binne in die voertuig. Aan die agterkant maak die bagasieruimte se deksel oop tot op ‘n hoogte van 1841 mm terwyl ‘n ingeboude drukvlerk op die agterste deksel sorg dat daar minimum stof op die agterste venster vergader. Dit kan met gemak vyf insittendes huisves en om behulpsaam te wees vir ouer mense en kinders om in te klim, is daar aan die buitekant, onder die deure ‘n trap gemonteer.

Soos reeds genoem is die Forester op enige padtoestand in sy element. ‘n Onafhanklike veerstelsel met MacPherson stutte en spitaalvere en ‘n anti-rolstaaf op die voorwiele en ‘n onafhanklike stelsel met dubbel wensbene, spiraalvere en anti-rolstaaf op die agterste veerstelsel, sorg dat die voertuig onder bykans enige omstandighede, tenvolle geniet kan word. Moeder kan dit gebruik om die kinders skooltoe te neem. Die bestuurder van ‘n besigheid kan dit gebruik om sy kollegas te vervoer en die natuurliefhebber kan dit gebruik om byvoorbeeld die wildtuin te gaan besoek. Dit kan selfs aangewend word om ‘n sleepwa mee te sleep.

Daar bestaan ‘n groot verskeidenheid nutsvoertuie in die mark en sou u so ‘n voertuig wou aanskaf word dit aanbeveel dat u die Subaru op u aankooplys plaas en dit vir ‘n toetsrit gaan neem.