Motor rubriek – Ford Ranger Thunder 2,0BiT 4×4 10AT

Die ingenieurs by Ford rus verseker nie op hulle louere nie! Wanneer van die mededingers met ‘n nuwe produk na vore kom, het hulle alreeds hulle huiswerk gedoen en is hulle volgende produk al gereed.

Deur die gebruik van die Wildtrak as basis en bykomende toerusting by te bring, was dit nie moeilik om ‘n aansienlike hoeveelheid veranderings aan te bring nie. So verskyn daar op verskeie plekke die naam Thunder in rooi en swart mat afwerking van die allooi wielnawe wat geskoei is met 265 Continental Crosscontact LX bande met ‘n grootte van 265/60 R18 en die Ford is gereed om of die snelweg of die bos paaie in 4×4 aan te pak. Daar is ook op ander plekke gebruik gemaak van swart mat afwerking toerusting. So is die sierrooster ook met swart mat afwerking gedoen en met ‘n dun rooi strook omring om dit beklemtoon. LED hoofligte word gebruik met die kolligte in die onderste gedeelte van die voorste buffer gemonteer. Die bekende Ford blou ovaal kenteken is in die middel van die sierrooster gemonteer en die luginlaat aan die onderkant is met mat swart afwerking gedoen.

Deur gebruik te maak van onafhanklike, dubbel wensbeen, met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en lewendige agteras en bladvere, is die Ford in sy element op die snelweg, op die strand, met ‘n woonwa gehak of op die plaas paaie. Die ongeremde sleepwa gewig wat gesleep kan word is 750 kg. Moeder kan dit selfs gebruik om die kinders mee skool toe te neem want met die dat dit ‘n dubbel kajuit voertuig is met vier deure, kan dit vyf insittendes met gemak neem. Om die kinders en bejaardes se inklim makliker te maak, is daar ‘n sykant trap aangebring onder die deure.

Hierdie voertuig is so gerieflik, indien nie beter nie as ‘n motor want dit is veeldoelig en wanneer daar in die voertuig ingeklim word, word jou aandag dadelik getrek deur die hoë standaard van afwerking van al die toerusting. Alles is stewig gemonteer en die sitplekke is met leer bekleed. Die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar vir hoogte en dit kan vorentoe en agtertoe geskuif word. Selfs wanneer dit op die verste terug geskuif is, is daar nog steeds genoeg plek vir die agterste passasiers se bene.

Regvoor die bestuurder, deur die boonste gedeelte van die dikraam, leer bekleedte stuurwiel is die instrumente gemonteer met kleiner instrumente weer binne in dit. Op die stuurwiel self is daar skakelaars gemonteer waarmee die toerusting beheer word en in die arm leuning van die deure is die skakelaars vir die beheer van die sykant vensters. Die luguitlate van die lugversorger is weerskante van die aanraakskerm gemonteer en tussen dit en die ratkieshefboom is die beheer skakelaars vir van die toerusting. Die radio wat geinstalleer is kan met die stem beheer word en daar is ‘n lang lys van toerusting ingebou soos byvoorbeeld bloutand, laserskyf speler ens. Van die toerusting wat deel uitmaak van ‘n aansienlike hoeveelheid toerusting is sataliet navigasie stelsel, rit rekenaar, banddruk meter, windskerm veërs en hoofligte wat outomaties aanskakel ens. Wanneer ‘n mens na die indrukwekkende toerusting lys kyk, dan besef ‘n mens dit is soortgelyk aan die van ‘n luukse motor.

Die enjinkap bedek die hele neusgedeelte van die Ranger en wanneer dit oopgemaak word, is die bekende en beproefde vier silinder, inlyn 1996 kub. sentimeter, turbo aangejaagde met tussen verkoeler kragbron in plek. Daar is ‘n dubbel oorhoofse nokas met vier kleppe per silinder wat die “asemhaling” werk doen en die krag wat beskikbaar is tussen 3750 en 4500 o.p.m. is 157 kW en die wringkrag is 500 Nm tussen 1500 en 2000 o.p.m. Volgens die vervaardiger is hierdie bakkie baie spaarsaam met brandstof en is die verbruik teen 100km/u, 7,8 liter. ‘n Nege spoed outomaties ratkas sorg dat die krag na al vier wiele versprei word en die oorskakeling vind so seepglad plaas, dat dit moeilik waarneembaar is. Bestuurdershulp is beskikbaar sodat daar met min moeite teen ‘n skotige opdraande weggetrek kan word.

Wanneer daar agter om die Ford beweeg word is dit opmerksaam dat die laai gedeelte met ‘n skuifbare deksel toegemaak kan word. Dit verseker dat waardevolle goedere nie onder die oë van kwaaddoeners deurloop nie. Die laai gedeelte kan 860 liter neem en wat veral belangrik is dat die laaihoogte van so ‘n aard is dat goedere met min moeite gelaai kan word wanneer die laaibak deksel oopgemaak is.

Die veiligheidswaarde van hierdie voetuig is op ‘n baie hoë vlak. Binne in die kajuit is daar verskeie lugsakke gemonteer en ABS remme met EBD en EBA rem hulp verseker dat dit met veiligheid tot stilstand gebring kan word. Weereens vergelyk die remstelsel met die van ‘n motor want op die voorwiele is daar geventileerde remskywe met ‘n grootte van 302 mm gemonteer en op die agterwiele is die grootte van die remtrommels 295 mm.

Hierdie is ‘n voertuig van formaat en wanneer ‘n mens in die mark is vir ‘n veeldoel voertuig kan dit gerus op die aankooplys geplaas word en vir ‘n toetsrit geneem word by u naaste Ford handelaar.