Motor rubriek – Audi Q3 Sportback 40TFSI Quattro S tronic

Die Audi Q3 Sportback word in sy geheel in Ingolstadt Duitsland aanmekaar gesit. Dit word deeglik gedoen en die bou kwaliteit is van hoogstaande gehalte.

Van voor gesien trek die bouvorm dadelik die aandag. Die dak gedeelte wat met ‘n skuins helling na agter gebou is met ‘n sleurkoëffisient van 0,35, verseker dat die padhouvermoë van hoogstaande gehalte is. ‘n Verdere hulpmiddel is die ingeboude drukvlerk wat deel van die agterste klap vorm en ook ‘n mini drukvlerk wat net bokant die agterligte deel van die bakwerk vorm. ‘n Verdere hulpmiddel wat verseker dat die Audi in sy element is op die pad, is die feit dat al vier wiele by wyse van ‘n quattro dryfstelsel aangedryf word deur ‘n sewe spoed, dubbel koppelaar, ratkas. Uiteraard is dit op ‘n pad met draaie en dan nog berge wêreld ook, in sy element. Wat deel uitmaak van die goeie padhouvermoë is die onafhanklike, MacPherson stutte met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en onafhanklike, multi koppeling met spiraalvere en ‘n anti-rolstaaf, op die agterste veerstelsel.

Om te voorkom dat die bakwerk beskadig word deur bv. klippe, is daar mat swart, plastiek beskerming aan die die onderkant van die bakwerk, reg rondom die voertuig gemonteer. Vyf speek allooi wielnawe geskoei met 235/50 R19 Hankook Ventus S2 Evo bande pas netjies in die geronde wielboë van die bakwerk en vorm ‘n eenheid met die res van die sykant.

Deur die speke van die voorste allooi wielnawe kan die 312 mm geventileerde skywe gesien word en deur die speke van die agterwiele kan die 300 mm soliede skywe van die skyfremme gesien word. Die ABS remstelsel met EBD en EBA rem ondersteuning verseker veilige remvermoë.

Wat opvallend is wanneer die bestuurder in die voertuig inklim, is die onderste gedeelte van die dikraam, leer beklede stuurwiel, wat ‘n plat gedeelte het wat verseker dat daar met gerief agter die stuurwiel kan ingeskuif kan word. Op die stuurwiel is daar verskeie skakelaars aangebring vir beheer van die toerusting met een van verskeie lugsakke wat in die middelste gedeelte van die stuurwiel gemonteer is en die bekende Audi embleem op die toeter gedeelte.

Die sitplekke van die Audi is met leer bekleed en die nodige ondersteuning word op strategiese plekke van die insittendes se liggame gebied. Die bestuurder se sitplek is meganies verstelbaar vir vorentoe en agtertoe beweeg asook vir hoogte. Die duidelik leesbare instrumente wat deur die boonste gedeelte van die stuurwiel gelees kan word,is regvoor die bestuurder gemonteer. In die middel van die instrumentpaneel is luguitlate vir die lugversorger en onder dit die aanraakskerm met sy onderskeie funksies. Tussen die ratkies hefboom en die aanraakskerm is beheer knoppe vir die lugvloei en ander funksies gemonteer en deel van die toerusting is ‘n radio met stembeheer, bloutand, ‘n USB kragprop ens. Die vensters van die vier deure word elektries beheer en die skakelaars daarvoor is in die armleuning van die deure gemonteer.

Van die toerusting wat deel uitmaak van die motor is die hoofligte wat outomaties aanskakel, windskerm veërs wat outomaties aanskakel, die stuurwiel wat hoogte en reikafstand verstelbaar is, die agterste sitplek wat se rugleuning in ‘n verhouding van 40:20:20 platvou, parkeer hulp en nog talle ander handige toerusting. Van die hulpmiddels wat beskikbaar is vir die bestuurder, is ESC stelsel wat hulp verleen wanneer daar teen ‘n skotige opdraande weggetrek moet word.

Wanneer die voertuig van voor genader word, word die sierrooster met die mat swart afwerking dadelik opgemerk. Wat beklemtoon dat dit ‘n Audi is, is die bekende vier ring kenteken van die Audi wat in die middel van die sierrooster gemonteer is. Groot luginlate wat hulp verleen met die verkoeling van die voorste skyfremme is aan die onderkant van die voorste buffer gemonteer. Dit is met mat swart plastiek gedoen en die hoofligte vorm deel van die voorste modderskerms. Wanneer die enjinkap oopgemaak word, kan die kragbron van die Audi sigbaar. Plastiek skerms bedek dit en onder daardie skerms is die vier silinder, inlyn, 1984 kub. sentimeter met direkte, elektroniese brandstof inspuiting, turbo aangejaagde met tussen verkoeler, petrol kragbron in plek. Hierdie is ‘n bekende kragbron met dubbel oorhoofse nokas met vier kleppe per silinder enjin en daar is 132 kW beskikbaar met wringkrag van 320Nm tussen 1400 en 3940 o.p.m. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 8,3l/100km en die topsnelheid is 220 km/u. Ingeligte bronne meld dat die versnelling van 0 tot 100km/u geskied in 9,06 sekondes.

Wanneer agter om die Audi beweeg word en die agterste deksel word oopgemaak wat tot op ‘n hoogte van 1959 mm oopmaak, is daar bagasieruimte beskikbaar van 328 liter en wanneer die agterste sitplek se rugleuning plat gevou word, verhoog dit na 1108 liter.

Hierdie motor kan vyf volwassenes met gemak neem en is die ideale motor vir moeder, die besigheidsbestuurder ensovoorts.

Daar is ‘n wye keuse van hierdie grootte motor in die motor mark beskikbaar waaruit ‘n keuse gemaak kan word maar u kan dit gerus op u aankooplys plaas vir oorweging. U naaste Audi handelaar sal u kan neem vir ‘n toetsrit.