Kaapstad waarsku teen kraanwater

Die munisipaliteit van Kaapstad het glo ʼn waarskuwing uitgereik aan inwoners van Seepunt en Kampsbaai om nie kraanwater te drink nie.

Die waarskuwing kom nadat die Departement Water en Sanitasie in konsultasie met die Departement Gesondheid ʼn ondersoek begin het na die gehalte van die water nadat talle klagtes ontvang is deur inwoners van die gebiede.

Inwoners het gekla oor die reuk van die water, terwyl baie ook gekla het dat die water ʼn vreemde smaak het.

Verslae wat later ontvang is dui daarop dat die water ʼn soort metaalagtige smaak het wat die owerheid nou ondersoek.

Die Munisipaliteit sê die gehalte van die kraanwater word onderwerp aan toetse, en sodra die probleem reggestel is, sal inwoners dienooreenkomstig verwittig word.

Toetsresultate behoort na verwagting die naweek vrygestel te word, maar inwoners moet nie kraanwater drink totdat die aangeleentheid bevredigend reggestel is nie.