Gars produksie in weegskaal

Die produksie van gars is in die weegskaal nadat verneem is dat die grootste koper daarvan nie kon slaag om ʼn ooreenkoms te bereik by ʼn graan silo instansie om sowat 20,000 ton gars te berg nie.

Boere in die Swartland omgewing is bekommerd dat hulle gars gaan aanplant terwyl hulle in onsekerheid bly oor waar die graan gelewer kan word.

Gars is een van die beste gewasse wat in die wisselbou stelsel in pas om koring te vervang ten einde die beste opbrengste te lewer, maar vanjaar lyk dit nie baie rooskleurig nie.

Dit is reeds te laat en boere wil nie nou meer gars in die grond kry nie, wat beteken die vraag na die graansoort gaan vanjaar veel hoër wees as die produksie, en bestaan die moontlikheid dat gars ingevoer gaan word om aan die binnelandse vraag te voorsien.

Sommige boere het reeds oorweging gegee aan die moontlikheid om hawer te plant in stede van die gars wat normaalweg op die vorige jaar se koringland ingesit word.

Verskeie boere het aangedui dat hulle wel gars gaan plant, en dit moontlik in Caledon sal moet lewer, wat die produksiekoste sal beïnvloed.