EU koop miljoene dosisse Pfizer entstof

Die Europese Unie het ʼn ooreenkoms aangegaan met BioNTech-Pfizer om in die volgende twee jaar tot 2023 ʼn verdere 1,8 miljard dosisse entstof te lewer.

Die bestelling is die grootste wat nog by een maatskappy geplaas is vir koronavirus entstof, en sal glo op geskeduleerde tye gelewer word.

Die moontlikheid dat entstof deur Duitsland vanaf Rusland bestel gaan word, is nog nie van die baan nie, maar daar is geen sekerheid of Duitsland sal voortgaan met die aankoop van Spoetnik V entstof nie.

Groot ontevredenheid heers in Duitsland en verskeie ander lidlande van die Europese Unie oor die swak lewering van entstof terwyl massa bestellings geplaas is waarvoor reeds betaal is. Dit is veral Duitsland wat nie tevrede is oor die lewering van entstof vanaf BioNTech-Pfizer wat tot die besluit gelei het om Rusland te nader.

Die EU poog om soveel as 70% van die lidlande se bevolking geimmuniseer te kry teen die einde van Julie vanjaar.

5