Duitsland: Regse nasionaliste wil EU verlaat

Die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland (AFD) het die afgelope naweek hulle verkiesings manifes gefinaliseer, en ondermeer die beginsel aanvaar dat die party die land sal uitlei uit die Europese Unie indien hy aan bewind sou kom.

Alhoewel daar min hoop is dat die AFD wel die volgende algemene verkiesing sal wen, bestaan die skraal moontlikheid dat die verkeerde persoon in kanselier Merkel se amp gekies word, wat ʼn beduidende invloed kan uitoefen op die finale uitslae.

Kenners wys daarop dat die suksesvolle uittrede van die Verenigde Koninkryk wel die gedagte van Duitse uittrede ietwat meer aanvaarbaar maak, maar dit gaan nog lank neem voor die land sy uittrede aankondig, sê politieke ontleders.

Die nasionaliste het in die vorige algemene verkiesing sterk opgang gemaak, en gedurende die afgelope konferensie in Dresden, is waargeneem dat daar ʼn ferme beslistheid is om ʼn stewige vertoning te lewer in die volgende verkiesing.

Die party sal egter eers later besluit oor wie in die veld gestoot gaan word as kandidaat vir die amp as Duitse Bondskanselier.