Duitse premier wil Russiese entstof bestel

Die Premier van Sakse, Michael Kretschmer, het gesê die aankoop van Spoetnik V entstof van Rusland teen die koronavirus is tans hangend, maar sy besoek aan Moskou was vrugbaar.

Die premier het onderhandel met die Russiese president, Vladimir Poetin en die Minister van Gesondheid oor die aankoop van 10 miljoen dosisse entstof, en die moontlikheid bestaan dat Duitsland 30 miljoen dosisse sal bestel.

Die Duitse bestellings sal amptelik geplaas word sodra die Europese Unie die Spoetnik V entstof goedgekeur het, met die verstandhouding dat Rusland die entstof sal kan lewer soos wat ooreengekom word.

Rusland het egter te kenne gegee dat die lewering eers in Junie sal wees indien die EU die entstof goedkeur gedurende Meimaand.

Die premier het later gesê hulle wil 10 miljoen dosisse per maand koop, vir drie maande, Junie, Julie en Augustus.