Die onreg van die regbank

Nadat die Grondwethof beslis het dat die voormalige ANC president, Jacob Zuma, tot hierdie Woensdag tyd gegee is om te reageer op die bevindinge, het sy grootpraat ondersteuners hulle teleurstelling uitgespreek oor hoe die Zuma geval hanteer word.

Die regbank word nou as die skuldige geëtiketteer en die man wat skuldig is, word nou verontreg.

Dit is hierdie toedrag van sake wat Suid-Afrika in die oë van die wêreld, bedenklik en onbetroubaar maak wanneer dit by reg en geregtigheid kom.

Die feit dat Zuma nou reeds tien jaar en langer vrylik rondbeweeg terwyl die swaard oor sy kop is, en niemand bereid is om daardie swaar te gebruik nie, maak die regstelsel belaglik.

Enige persoon in Suid-Afrika wat dit sou waag om die roete te volg wat Zuma tot hede gevolg het, sou baie, baie lankal diep weggebêre gewees het in die kleinste tronksel beskikbaar.

Dit is opvallend dat Cyril Ramaphosa nie bereid is om sterk standpunt in te neem oor Zuma se optrede nie, en die gesprekke wat deur verskeie persone met die beweerde oortreder gevoer is, laat nou die indruk dat alles moontlik gedoen word om Zuma skotvry te laat, want terwyl hy betrokke was by ongerymdhede, was die huidige president sekerlik bewus van alles, en het niks daaromtrent gedoen om reg te laat geskied nie.

Dit is geen wonder dat Zuma nou aankondig dat hy werwings werk vir die ANC gaan doen met die oog op die munisipale verkiesings nie.

Dit is sulke gebeure wat veroorsaak dat wetsgehoorsame burger verkies om die land te verlaat, en dit is sulke gebeure wat beleggers laat besluit om elders hulle miljarde dollar te investeer.