Die minute tik verby vir Magashule

Terwyl die horlosie se minute verby gaan en die dae minder word vir Ace Magashule om sy onbenydenswaardige keuse te maak, is daar ook talle ander ANC lede wat in dieselfde bootjie sit.

President Cyril Ramaphosa het die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC se besluit hard en duidelik uitgespel, en was direk gemik op die ANC se omstrede Sekretaris-Generaal, Ace Magashule, wat onder verdenking is van misdrywe wat die party se geloofwaardigheid aantas.

Ramaphosa het gesê diegene in die ANC wat beskuldig word van enige misdrywe, moet bedank uit hulle poste, of sal geskors word ingevolge die prosedures wat vereis word.

In ʼn brief wat aan die ANC gestuur is, en gestuur is aan die nege provinsiale sekretarisse, sê Magashule  hulle is ook persone wat sal moet bedank uit hulle ampte teen die einde van die maand, en dit kan selfs insluit mense wat by implikasie beskuldig word van verkeerde dade maar wat tot hede nog nie vervolg is nie.

Ingeligte bronne sê die brief staan in skrille kontras met wat deur die Nasionale Uitvoerende Komitee besluit is, en kan Magashule se saak nog verder benadeel indien hy sou besluit om nie te bedank nie, en eerder die dissiplinêre verhoor en daarna skorsing te trotseer.