Chad president wen verkiesing en sterf

Mahamat Idriss Deby Itno

Die president van Chad regeer reeds sy land vir 30 jaar, en die ses termyne sou opgevolg word met ʼn sewende, maar toe tref die noodlot hom onverwags.

Die president was verheug oor sy oorwinning by die stembus, en het besoek afgelê by die soldate wat elders in die land ʼn verbete stryd teen rebellemagte voer, net om aan hulle sy ondersteuning te gee en die oorwinning bekend te maak.

Kort na sy aankoms sterf hy deur die koeël van die rebellemagte, en bereik die tragiese nuus die feesvierende mense wat sou wag op sy terugkeer na die hoofstad.

President Idriss Deby se skielike dood het wanorde veroorsaak, maar die Tussentydse Raad sal intussen die leisels neem, met die president se seun aan die voorpunt om die land intussen te regeer.

Die 37-jarige seun van die president, Mahamat Idriss Deby Itno, sal waarskynlik as militaris die leiding neem tot verdere besluite gefinaliseer word. Dit word betwyfel of Chad weer na die stembus sal gaan, en indien wel, sal dit nie gou wees nie, het ingeligte waarnemers gesê.