Brasilië wil nou begin virus bestry

Die konserwatiewe regering van President Jair Bolsonaro wil nou eers begin met die doelgerigte bestryding van die koronavirus pandemie nadat die land se infeksies en sterftes weens Covid-19 die hoogte ingeskiet het.

President Bolsonaro het aangekondig dat sowat $1 miljard beskikbaar gestel word om die pandemie hok te slaan wat reeds geruime tyd ʼn stygende tendens het wat bykans buite beheer geraak het.

Die aankondiging kom te midde van die kabinet skommeling wat bekend gemaak is, en met die jongste sterfte syfers van 3,780 binne 24 uur, wil dit lyk of die nuwe kabinet die president oortuig het om sterker op te tree.

Sowat 25% van die daaglikse sterftes wat wêreldwyd  geregistreer word, is in Brasilië, en die internasionale druk op die president om die stryd meer doelgerig aan te pak, het gelei daartoe dat $1 miljard aan nuwe lenings aangegaan is.

Politieke ontleders in die land reken die moontlikheid dat die president in ʼn volgende presidentsverkiesing gekies gaan word, uiters skraal is weens sy swak hantering van die koronavirus pandemie.