Brasilië: President vervang ses ministers

Die president van Brasilië, Jair Bolsonaro, het met ʼn kabinet skommeling die wenkbroue laat lig toe hy aangekondig het dat hy ook oorweeg om die hoofde van die vloot en die lugmag sowel as die hoof van die weermag te vervang.

Gedurende die afgelope weke het die president verskeie ministers reeds vervang, en die jongste aankondiging laat kiesers twyfel oor die wysheid wat openbaar word.

Sy kabinet skommeling kom op ʼn tyd waar die land se krisis met koronavirus infeksies en sterftes daarvan die hoogte ingeskiet het en die inenting veldtog veel stadiger verloop as wat voorsien is.

Enkele weke gelede is die Minister van Gesondheid vervang, en met die kabinet skommeling word die Minister van Verdediging en die Minister van Finansies ook vervang.

Politieke ontleders in Brasilië sê die drastiese stappe kan gesien word as ʼn leier wat onseker is oor sy eie vermoë om stabiliteit te vestig in die land wat tans op verskeie terreine besonder swak vaar.