Brasilië nader aan nasionale ramp

Brasilië trotseer tans ʼn nasionale ramp met die geweldige toename in Covid-19 infeksies wat nog vinniger versprei met die variant wat intussen ontdek is en wat in die land ontstaan het.

Die sterftes sal teen die huidige tempo, binnekort die ergste situasie wat in die VSA aangeteken is, verby steek nadat dit gister meer as 4,000 sterftes binne 24 uur aangeteken is.

Die land het reeds meer as 337,000 sterftes geregistreer volgens die Minister van gesondheid, en dit is skrikwekkend as in gedagte gehou word dat die VSA met sy veel groter bevolking, 556,000 sterftes het.

Brasilië se bevolking is sowat 60% van die in die VSA, en teen die huidige koers van sterftes kan verwag word dat die land se totale sterftes uiteindelik meer sal wees as die VSA.

Hospitale is tot oorlopens toe vol van koronavirus pasiënte, en die gesondheid personeel glo veels te min om reg te laat geskied aan elkeen wat in die hospitale opgeneem word.

Die Minister van Gesondheid het gesê in die jongste 24 uur tydperk het sy departement 4,195 sterftes geregistreer en volgens ʼn dokter is die immunisering veel stadiger as waarop gehoop is.