Belarus sê staatsgreep is afgeweer

Die regeringsmagte van Belarus en die Russiese regering beweer dat hulle daarin geslaag het om ʼn beplande staatsgreep te fnuik wat deur teen-regerings elemente beplan is.

Bewerings is gemaak dat die beoogde staatsgreep ten doel het om die huidige president, Alexander Lukashenko, uit die kussings te lig.

Later het ʼn TV kanaal beweer dat hy oor video materiaal beskik waar drie mense wat as verdagtes voorgehou word, met beplanning besig was oor hoe die staatsgreep uitgevoer sou word.

Die omstrede president Lukashenko sê die poging is gerugsteun deur die VSA wat ʼn komplot aangegaan het met mense in Belarus.

Die beskuldiging is glo dat die drie mense in Moskou was toe die beplanning gedoen is, en dit verklaar glo waarom Moskou kan bevestig dat die staatsgreep beplan is.

Die TV kanaal het later na vore gekom met die video waarin ʼn prokureur, Yuras Zyankovich, as Belarus opposisie politikus met ʼn VSA paspoort, glo deel van die komplot is.