Al weer Kubane om te help

Die Departement van Water en Sanitasie gaan 24 Kubane, wat glo ingenieurs is, na Suid-Afrika bring om die onvermoë van die ANC regering uit die weg te ruim deur infrastruktuur op te gradeer en kennis oor te dra.

In ʼn verklaring wat die departement uitgereik het, word gesê die Kubane word “gesekondeer” na Suid-Afrika om die swak bestuur van stelsels te verbeter wat die afgelope jare geen behoorlike instandhouding en verbeterings ondergaan het nie.

Volgens die regime is die Kubane “hoog gekwalifiseer” en spesialiste op die gebied om bystand te verleen op provinsiale en munisipale vlak regoor die land.

Die ingenieurs sal glo hulle kennis op meganiese, elektriese en ander ingenieurs gebiede aanwend om die stelsels te verbeter, en om kennis oor te dra aan werkers.

Hulle sal ook behulpsaam wees met die bestuur van stelsels, praktiese en volhoubare gebruik van water bronne en instandhouding van stelsels.

Etlike jare gelede het die Vrystaat regering ook van Kubane gebruik gemaak om hulle riool en water stelsels en toerusting op te gradeer, maar later is gerapporteer dat hulle, te midde van groot salarisse, weinig uitgerig het en selde hulle opwagting gemaak om stelsels te verbeter.