Ace nog op die skaatsbaan

Die ANC se Sekretaris-generaal, Ace Magashule, is nog steeds besig om op sy manier steun te werf vir die moeilike tyd wat op hom wag.

Dit is die mening van ʼn onafhanklike meningsvormer wat die optrede en gebeure rondom Magashule met ʼn arendsoog probeer volg.

Met sy toespraak tydens die seremonie van Maxeke in die Nancefield begraafplaas, het hy ondermeer gesê Suid-Afrika was vir baie lang jare die enigste land ter wêreld waar die ekonomie nie in die hande van die meerderheid was nie.

Kenners het in reaksie daarop gesê dat Magashule se bewering nie juis is nie, want alle kommunistiese lande is skuldig aan die miskenning van ʼn ware volks-ekonomie in hulle land.

Magashule se maand van beslissing het aangebreek, en hy het kwalik 20 dae oor om te besluit of hy gaan bedank as Sekretaris-generaal, en of hy die ander weg gaan volg wat sal begin met ʼn dissiplinêre verhoor, wat skorsing of selfs afdanking kan beteken.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee het beslis dat alle ANC lede wat vir ernstige oortredings vervolging in die gesig staar, die keuse het om te bedank uit hulle poste, of om deur die Komitee dissiplinêr verhoor te word.