Vier VSA Republikeine vir 2024?

Die Republikeine het waarskynlik reeds vier potensiële kandidate vir die presidentsverkiesing in 2024 wat sal poog om die wedloop te wen om uiteindelik teen Joe Biden te staan te kom.

Die vier senatore het die eerste teken getoon dat hulle beskikbaar kan wees as presidentskandidaat deur hulle optrede om die afgelope vergadering van die Senaat hulle teenstemme uit te bring teen die president se nominasies vir senior poste.

Dit is ʼn redelike algemene gebruik om die president se nominasies teen te staan om te verseker dat kiesers later sal weet dat die kandidaat van meet af teen die president se optrede geveg het.

Die Senatore, Ted Cruz van Texas, Josh Hawley van Missouri, Rick Scott van Florida, en Sen. Tom Cotton van Arkansas het bykans elke nominasie van Joe Biden teengestaan, wat waarnemers laat glo dat die vier senatore hulle oog op die 2024 presidentsverkiesing het.

Kenners wys daarop dat nog meer potensiële kandidate hulle tot die stryd beskikbaar sal stel, en die moontlikheid is nie uitgesluit dat ʼn Trump weer op die horison kan verskyn nie.