Uit my Kuierkombuis

‘n Sjokoladekoek is altyd ‘n wenner by ‘n teetafel of ‘n teetuin wanneer dit by eetgoed kom!  Kyk jy tydskrifte deur,  is daar altyd iewers ‘n verwysing na ‘n heerlike klam sjokoladekoek!   My Peetma  het die lekkerste sjokoladekoek gebak en die resep het deel van die familieresepte geword.

Sjokoladekoek

Klits saam:

3 ekstragroot eiers  (eierwit en gele geskei)

½ kop olie

½ kop water

1 t vanieljegeursel

Sif saam:

1 kop koekmeelblom

½ kop strooisuiker

3 t bakpoeier

2 desertlepels hoogvol kakao

Knippie sout

Metode

  1.  Voorverhit die oond tot 180ºC en smeer of bespuit ‘n 20cm koekpan. Voer die onderkant van die koekpan uit  met gesmeerde bakpapier.
  2. Voeg die droë bestanddele by die nat bestanddele (behalwe die eierwit) en klits vinnig vir ‘n minuut in ‘n elektriese menger. Klits die eierwitte tot styf maar nie droog nie en vou dit in die beslag.
  3. Skep die beslag uit in die voorbereide koekpan en bak in die voorafverhitte oond vir 35 tot 40 minute tot deurgaar.  ‘n toetspen kan gebruik word om dit te bepaal.
  4. Keer daarna uit op ‘n afkoelrak en laat afkoel voordat u dit gaan versier.
  5. Sodra dit heeltemal afgekoel het,  kan u die koek horisontaal deursny. Ek gebruik ‘n spesiale koekligter om die bolaag af te lig sodat ek die bolaag weer presies kan terugplaas nadat die versiersel opgesmeer is.

Versiering:

250ml sagte botter

125 ml gekookte kondensmelk

500ml versiersuiker

125 ml kakao

Knippie sout

5ml  karamelgeursel

1 – 2 e melk

Metode:

  1. Sif die versiersuiker, kakao en knippie sout saam.
  2. Verroom die botter en karamel kondensmelk en voeg die versiersuiker lepelsgewys by totdat die mengsel begin dik word.
  3. Indien nodig kan 1 – 2 e melk bygevoeg word om die beslag meer smeerbaar te maak.
  4. Sodra die tekstuur lig en romerig is,  kan die geursel bygevoeg en goed deur gemeng word.
  5. Smeer die versiersel tussen twee koeklae en bo-op die koek.
  6. Versier die sjokolade koek met rooi en groen glanskersies asook ‘n paar sjokoladekrulle. Dit lyk nogal mooi wanneer donker, ligte en wit sjokolade krulle gebruik word. …..en soos op die foto …… span die houertjie met allekleurtjies in vir ‘n vrolike kleurryke afronding!