Uit my Kuierkombuis

Sondagaande bak  ek gewoonlik skons of vetkoek wanneer die kinders oorkom.  Vir ‘n verandering het ek die volgende kaasbroodjie gebak wat die volgende dag nog geuriger was …… en makliker gesny het!

Vinnige Kaasbroodjie

Bestanddele:

500 ml koekmeel
20 ml bakpoeier
250 ml volroom melk
2 groot eiers – geklits
125 ml mayonnaise
2 ml sout
20o g gerasperde cheddar kaas
5 ml gemengde droë kruie (opsioneel)

Metode:
1.  Voorverhit die oond tot 180 ° C
2.  Smeer broodpan (30cm x 12cm) goed met botter of spuit met kleefwerende middel. (Ek plaas deesdae ‘n velletjie bakpapier in die pannetjie sodat die gebak maklik uitkeer wanneer baktyd verby is)
3.  Sif die koekmeel en bakpoeier saam in ‘n groot bak.
4.  Meng die melk, eiers en mayonnaise en voeg by die meelmengsel.
5.  Voeg gerasperde kaas, sout en droë kruie meng deur.
6.  Skraap die beslag in die voorbereide pan en bak vir sowat 30 – 35 minute tot goudbruin en ‘n toetspen skoon uitkom.
7.  Laat die brood afkoel vir ‘n paar minute in pan voor jy dit op ‘n draadrak uitkeer.

** Gee die broodjie ruim kans om af te koel,  anders is dit geneig om agv sy fyn tekstuur te verbrokkel wanneer jy dit sny wanneer dit nog te warm is.

** Ek gaan volgende keer ook die kaas bo-op die broodjie eerder in die broodjie se beslag plaas, want alhoewel die korsie heerlik bros bak,  bemoeilik dit die sny van die broodjie veral wanneer dit nog vars gebak is.

**  Die kruie kan weggelaat word vir ‘n gewone kaasbroodjie.

**  Die broodjie is heerlik om net so tee et,  maar kan ook met ‘n smeersel botter en konfyt, heuning, stroop of sout smeer van jou keuse,  geëet word.