Uit my Kuierkombuis

Ek deel graag die volgende resep (met haar toestemming) van ‘n vriendin en bekende koskundige,  Karen Hart,  wat sy verlede week op haar facebook blad geplaas het.  Wat my oog gevang het,  was eerstens die rosyne ……….. en toe die naam van die broodjie ….. Ouma se oornag rosynebrood!  Die beslag word dus die vorige aand aangemaak,  in ‘n groot kastrol,  en more oggend skakel jy jou oond aan,  skep die deeg in twee pannetjies en bak dit ……….. vir ontbyt of vir die elfuur teetyd!

Karen skryf die volgende: “deur die nag kleur en geur die rosyne daardie deeg …. En terwyl daardie broodjies bak, water jou mond al met al die geure wat die kombuis vul.”

Die broodjies kan ook in kleiner pannetjies gebak word vir ‘n mark of as geurige geskenkie vir iemand wat jy wil bederf!

Ouma se Oornag-rosynebrood

(lewer 6 mini-broodjies of 2 standaard grootte brode)

Bestanddele:

1⅔ kop ontpitte rosyne **

3⅔ kop koekmeelblom

½ tl sout

¼ tl fyn naeltjies

¼ tl kaneel

¼ tl gemengde speserye

125g botter

2 tl koeksoda

1 kop suiker

2 kop karringmelk **

2 eetl fyn appelkooskonfyt

Metode:

  1.  Kap die rosyne fyner
  2. Sif die koekmeelblom, sout, naeltjies, kaneel en gemengde speserye saam in ‘n mengbak.
  3. Voeg die rosyne by en meng totdat al die stukkies met meel bedek is.
  4. Smelt die botter oor lae hitte in ‘n groot kastrol
  5. Haal dit van die stoofplaat af sodra die botter gesmelt is en roer die koeksoda by. Roer totdat al die klontjies opgelos het.
  6. Voeg die meelmengsel en suiker by.
  7. Giet die karringmelk in ‘n Kleiner bakkie en klits die appelkooskonfyt by.
  8. Voeg dié mengsel by die mengsel in die kastrol en meng goed.
  9. Bedek die kastrol met sy deksel en laat oornag staan.
  10. Die volgende  oggend skep jy die deeg in die gesmeerde broodpannetjies en bak die groter panne (30cm x 10cm)  vir 50  – 55 minute in ‘n voorverhitte oond van 180ºC.
  11.  Die broodjies kan ook in die heel klein pannetjies gebak word waarna jy die baktyd verminder na 20 – 25 minute.

**  die karringmelk kan vervang word met Amazi – baie lekker!

**  Ek het by Fruit & Vegs van hul gemengde pitlose rosyne gekoop wat ek effens fyner gekap het in my voedselverwerker.

Die broodjie bly lekker klam en is baie geurig.