Suid-Afrikaners aangeval in Mosambiek

Suid-Afrikaners is onder die 180 mense wat inderhaas uit die Maroela Hotel in die noorde van Mosambiek bevry is nadat die Islamitiese Staat terroriste ʼn aanval op hulle uitgevoer het.

Die grootste deel van die 180 mense wat in die hotel was, kon die terroriste se aanval ontwyk, maar onbevestigde berigte lui dat een Suid-Afrikaner vermis word en vermoedelik ontvoer is.

Dit is nie bekend hoeveel onskuldige mense omgekom het in die aanval nie, maar die mense wat daar werksaam is in die gebied naby Palma in die Cabo Delgado provinsie, kon daarin slaag om te ontsnap.

Die Suid-Afrikaners is werksaam by die reuse gasaanleg in die noorde van Mosambiek, wat naby die grens met Tanzanië is, en die terroriste poog klaarblyklik om die gebied onregeerbaar te maak sodat hulle hul hande op die gasaanleg kan lê.

Die weermag het met militêre voertuie gehelp om die mense weg te kry uit die onluste terwyl ʼn konvooi van sowat 15 ander voertuie die res van die mense vervoer het, maar die IS terroriste het ook aanvalle op die konvooi uitgevoer en verskeie mense in die skermutseling is gedood.