Suezkanaal drama kos miljarde

Die Suezkanaal is die afgelope week voorblad nuus, en die aanvanklike bewering dat die sterk wind die reuse vragskip, Ever Given, dwars laat draai het, blyk nie die ware prent te wees nie.

Ingeligte bronne beweer dit is menslike foute wat die krisis veroorsaak het, en die skip met sy swaar vrag van honderde skeepsvrag houers aan boord, het vasgeval in die sand toe dit skuins gedraai het.

Nuwe toerusting moes bygebring word om die sand te verwyder, en terwyl al meer skepe wag om deurgelaat te word, moes meer as 20,000 ton sand onder die skip uitgepomp word met groot pompe.

Minstens 14 sleepbote is op die toneel om die skip weer op koers te probeer kry terwyl meer as 300 skepe wag om deurgelaat te word.

Die koste van die hele operasie is nog onbekend, en wie vir alles gaan betaal, weet niemand nie, maar kenners reken die miljarde dollar aan koste gaan moontlik teen diegene se rekening kom wat die verkeerde optrede gevolg het wat die blokkering veroorsaak het.

Skepe wat besluit om om te draai en die Kaap de Goede Hoop roete te neem, sal sowat 7,000 km verder vaar wat nagenoeg 8 tot 10 dae langer kan neem om by die bestemming aan te kom. Met ses dae reeds geblokkeer is die skepe wat dadelik omgedraai het, dus beter daaraan toe as om te wag vir oopstelling.

Met nagte en dae se werk om die skip weer vaardig te kry, kon al die bykomende hulp uit ander lande soos die VSA en Brittanje, verseker dat die reuse skip weer gered gemaak is en sy tog kon voortsit.

Nou kan die sowat 370 skepe wat moes wag dat die reus, Ever Given, deur die kanaal kom, een na die ander toegelaat sal word om deur te vaar, maar sal nog enkele dae kan duur.