Spesiaal: HOE LAAT OF HOE VROEG IS DIT

Dit blyk dat die blik op die toekoms vir baie van ons Boere-Afrikaners baie donker voorkom. Die vraag is, is dit werklik so of kyk ons nie moontlik die lig wat begin deurbreek, mis nie?

Daar word algemeen aanvaar dat die gemiddelde raklewe van ‘n grondwet of grondwetlike bedeling 20 tot 25 jaar is. Dit, saam gelees met die debat wat tans aan die gang is onder politieke ontleders of die kantelpunt in Suid-Afrika reeds bereik is en of dit nog bereik moet word, is ‘n belangrike aanduiding dat die raklewe moontlik naby sy einde is.

Die vraag word reeds gevra of die huidige bedeling bygedra het tot ‘n beter lewe vir almal? Die ontevredenheid aan die linkerkant sowel as aan die regterkant van die politieke spektrum word by die dag groter wat meebring dat die huidige bedeling voor ernstige uitdagings te staan kom en die pad vorentoe is vandag onsekerder as op enige tydstip sedert 1994. Die vertroue op die huidige bedeling is op ‘n absolute laagtepunt.

Die ekonomiese en finansiële uitdagings was reeds voor die COVID-19 situasie by ‘n kantelpunt. In sommige kringe word reeds aanvaar dat die ekonomie op pad is na ‘n totale ineenstorting.

Die politieke verval en staatkundige inploffing het ook ver gevorder met die disfunksionele aard van owerheids en semi-staatsinstellings en dit raak die wese van die staat as staat. Dit word as ‘n feit genoem dat 80% tot 90% van munisipaliteite al disfunksioneel is.

Die krisis binne die ANC verdiep daagliks en dit blyk dat die leierskap nie eers meer hierdie krisis kan bestuur nie, wat nog te sê van die krisis waarin die land verkeer.

Bogenoemde sake bring Suid-Afrika by samelewing agteruitgang en -verval. Die onvermoë van die regering om nasiebou te bevorder, behoorlike dienste te lewer, infrastruktuur te ontwikkel en in stand te hou, weg te doen met ras-diskriminerende wetgewing, en kulturele en minderheidsregte te erken, is tekens van nie net bloot ‘n samelewing in konflik nie, maar een wat besig is om te verbrokkel.

Al die sake dui op ernstige staat verval wat deur die COVID-19 pandemie versnel is. Waarvoor daar geen twyfel oor moet bestaan nie, is die ernstige en verwikkeld aard van die krisis wat besig is om te ontwikkel nie. Dit is nie uitgesluit dat dit so ver gevorder het dat ons reeds midde-in die moeilike geboorte van ‘n nuwe bedeling is nie.

Daarom is dit seer sekerlik nie vergesog van ‘n organisasie soos die Suidlander verdedigings been om reeds voor te berei vir ‘n totale anargie situasie nie.

Dit kan as ‘n feit aanvaar word dat dit baie laat geword het vir die ANC en die huidige grondwetlike bedeling.

Die vraag aan ons is egter: Eerstens, wat is ons waardering van die huidige situasie? Tweedens, wat is ons beplanning wanneer dit realiseer om daarop te kan kapitaliseer? Derdens, is die Afrikaner Boerevolk gereed om hulle volksvryheid op te neem? Vierdens, is ons as individue gereed om ons volk daarin voor te gaan?

Bo en behalwe die bogenoemde kan die volgende vrae ook met reg aan mede volksgenote gevra word:

  • Kom die geleentheid nie dalk te vroeg vir die gereedheidsvlak waarop ons is nie?
  • Gaan ons nie met ons broek op die knieë gevang word nie?
  • Hoe paraat is ek, my gesin en my mede volksgenote in my onmiddelike omgewing ten tye van moontlike anargie?
  • “Vryheid – is dit ons erns”?
  • Hoe betrokke is ek by verset – leef ek nie maar net in die spreekwoordelike gemakstoel nie of dui my leefwyse daarop dat ek nie tevrede is met dit wat in die land plaasvind nie?
  • Kan ek bewyse lewer dat ek aan verset aksies deelneem? Ondersteun ek byvoorbeeld BCVO skole?
  • Is ek betrokke by Volksake?
  • Woon ek gereeld volkskultuur byeenkomste by wanneer dit wel plaasvind?
  • Wanneer daar van my verwag word om ‘n taak te verrig vir die volk, is ek beskikbaar of is ek sommer net gewoon “dwars”?

Onthou uit jou weermag dae – “ken jou vyand” en die ANC, en nog talle ander is ook ons vyand!