Slegte nuus vir OB Busisiwe Mkhwebane

Die Nasionale Vergadering het met ʼn meerderheid van 275 stemme teen 40 goedgekeur dat ondersoek gedoen word na die OB of sy wel bekwaam is om in die amp aan te bly.

Al die pogings van die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, om afsetting te probeer keer, lyk tevergeefs te wees nadat die parlement ʼn ondersoek na haar bevoegdheid goedgekeur het met slegs die teenkanting van die Malema-groepie.

Intussen is die adjunk Openbare Beskermer aangewys om in Busisiwe Mkhwebane se plek op te tree, wat beteken die skrif is aan die muur vir haar.

Die moontlikheid bestaan dat Busisiwe Mkhwebane dit moeilik gaan vind om haarself te verdedig aangesien sy te veel kere in die hof die stryd verloor het teen mense wat ook as senior ANC kabinetslede beskou word.

Meningsvormers reken dit is juis sulke hofsake wat teen haar gaan tel in die ondersoek, veral met verwysing na die hofsake teen Ramaphosa en Gordhan wat sy verloor het en as bewys kan dien van haar onbevoegdheid.

Daarbenewens het sy ook jammerlik gefaal in die poging om die parlement te verhinder om ʼn ondersoek te begin teen haar, wat sy ook in die hof verloor het.