Motor rubriek – Toyota Fortuner 2,8 GD-6 4×4 VX AT

Die Toyota Fortuner is sekerlik een van die bekendste voertuie op ons land se paaie. Die sukses daaraan kan toegeskryf word aan die feit dat dit ‘n voertuig is wat in bykans alle toestande aangewend kan word. Of jy ‘n natuurliefhebber is en of jy ‘n 4×4 entoesias is, dit pas in.

Dit is so dat dit ‘n voertuig is wat gebaseer is op die Hilux bakkie, maar dit doen geen afbreuk aan die doeltreffendheid daarvan nie. Op die snelweg/stad/dorp is die padhouvermoë van hoogstaande gehalte. Word dit in 4×4 geskakel en daar word byvoorbeeld op die strand gery om te gaan hengel, dan is dit in sy element en kan dit meeding met enige ander 4×4. Wat dit verder bruikbaar maak in 4×4 is die sluitstelsel wat op die agterste ewenaar gepas is. Dit verseker dat die krag goed versprei word en wanneer daar oor rotse “geklouter” moet word, is dit in sy element. Die kombinasie van onafhanklike dubbel wensbeen met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en lewendige agteras met spiraalvere, verseker dat dit ‘n voertuig van formaat is.

Met die heel nuutste opgekikkerde weergawe, het Toyota sy mededingers weer “stof in die oë geskop”. Oënskynlik kan dit nie opgemerk word nie maar wanneer die voertuig van naderby beskou word, word dit opgemerk. ‘n Hoë premie word geplaas op veiligheid en die Fortuner is beklee met Toyota se veiligheids pakket bekend as Toyota Safety Sense pakket en daarin word daar voorsiening gemaak vir voor ongeluk voorkoming waarskuwing, pad baan verandering waarskuwing, snelheidsbeheer en padteken erkenning waarskuwing. ABS remme met 338mm geventileerde skywe op die voorwiele en 312mm geventileerde skywe op die agterwiele, verseker dat die Fortuner met veilgheid en gemak tot stilstand kan kom. EBD en EBA stelsel is verder hulpmiddels vir die remstelsel. Verskeie lugsakke is binne in die voertuig gemonteer om behulpsaam te wees dat beserings aan die insittendes tot die minimum beperk word in die geval van byvoorbeeld ‘n botsing.

Wanneer daar in die voertuig ingeklim word is daar verdere hulpmiddels in plek. ‘n Sykant trap onder die deure sorg dat daar met gerief en gemak ingeklim kan word. Die sitplekke is gedeeltelik met swart kunsleer beklee en die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar vir hoogte en beweging na vore en agtertoe. Vir die agterste passasiers is daar plek vir hulle bene van 699mm en hulle kan dus ook ‘n gerieflike sitposisie inneem met ondersteuning vir die liggaam op strategiese plekke en die rugleuning vou plat in ‘n verhouding van 60:40. Geborselde alluminium is op verskeie plekke in die kajuit aangebring en dit sorg dat ‘n luukse voorkoms teenwoordig is. Die vensters van al vier deure word elektries beheer en deur die boonste speke van die dikraam stuurwiel, kan die instrumente gelees word. Op die stuurwiel is verskeie skakelaars gemonteer vir beheer van die toerusting. Aan die regterkant is die snelheidsmeter en aan die linkerkant is ‘n toereteller wat die toere kan lees tot by 6000 o.p.m. Die rooilyn op die toeteller begin by 4500 o.p.m. In die twee instrumente is kleiner duidelik leesbare instrumente gemonteer.

Tussen die aanraakskerm en die ratkies hefboom, is beheer skakelaars vir verskeie van die toerusting gemonteer. Onder andere is daar ‘n teken wat aandui dat die 4×4 stelsel inwerking is en die ratkies hefboom wat ‘n ses spoed outomatiese ratkas beheer is in die middel konsole gemonteer met bêre plek vir kleiner goedere in ‘n oopmaak gedeelte van die konsole. Van die toerusting wat geinstalleer is sluit in ‘n radio met ‘n kragpunt, laserskyfspeler, MP3, bloutand ensovoorts.

Van buite gesien is die Fortuner ‘n indrukwekkende voertuig en wanneer daar om die voertuig beweeg word is die 265/60 R18 allooi wielnawe geskoei met Bridgestone Dueller A/T bande, ‘n groot aantrekkingskrag. In die wielboë is daar swart plastiek beskerming aangebring om te voorkom dat wanneer daar op ruwe terrein beweeg word, die bakwerk nie beskadig word nie.Van agter gesien vorm die ingeboude drukvlerk op die agterklap ‘n eenheid met die agterligte wat om die hoeke van die bakwerk vou en die chroomstrook met die naam Fortuner daarop. Die klap maak oop tot ‘n hoogte van 1949mm en wanneer die agterste sitplek se leunings platgevou word, verhoog die bagasieruimtes se grootte van 492 liter na 1292 liter.

Van voor gesien, skep die neus gedeelte ‘n blywende indruk. Aan die bokant van die sierrooster, wat deel vorm van die voorste buffer is die Toyota embleem gemonteer en ‘n chroomstrook beklemtoon die hoofligte wat ‘n deel vorm van die voorste modderskerms en die voorste buffer. Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar ‘n vier silinder, 2755 kub. sentimeter, inlyn, elektroniese direkte brandstof inspuiting, turbo aangejaagde met tussen verkoeler, diesel kragbron in plek. 150 kW is beskikbaar tussen 3400 en 4400 o.p.m. en die maksimum wringkrag is 500Nm tussen 1600 en 2800 o.p.m.

Hierdie is ‘n sportnuts voertuig met baie gebruike – teveel om op te noem en daar word aanbeveel dat dit op u aankooplys geplaas word indien daar ‘n behoefte bestaan om so ‘n voertuig aan te koop.