Motor rubriek – Hyundai Grand i10 1,2 Fluid

Die Hyundai Grand word in sy geheel in Indië gebou en dan ingevoer na SA. Die Koreaanse ingenieurs het hulle huiswerk deeglik gedoen en die eindproduk is ‘n goeie weergawe van eerstehandse tegnologie.

Wanneer die bestuurder se kant se deur oopgemaak word, is die eerste indrukke blywend. Die sitplekke is met kuns leer beklee en ‘n rooi stiksel sorg vir die afronding. Die bestuurder se sitplek is meganies verstelbaar vir hoogte en ook vorentoe en agtertoe beweging. Die beenspasie tussen die voorste en agterste sitplek is 680mm en daar is dus meer as genoeg plek vir die agterste passasiers se bene en daar is Isofix hegpunte vir ‘n baba stoeltjie. Die agterste sitplek se leuning verdeel in ‘n verhouding van 60:40 en wanneer dit plat gevou is, verhoog die bagasieruimte van 184 liter na 928 liter.

Die Grand se binnekant en afwerking is van hoogstaande gehalte. Al die vensters van die vier deure word elektries beheer en die instrumentpaneel wat regvoor die bestuurder gemonteer is, bestaan uit ‘n ‘n digitale snelheidsmeter, analoog toereteller en nog verskeie ander kleiner instrumente. ‘n 6,2 duim aanraakskerm wat Apple CarPlay en Androit Auto stelsels bevat is binne maklike bereikbare afstand van die voorste insittendes. ‘n Bykomende USB kragprop is geinstalleer vir gebruik en onder die aanraakskerm is die luguitlate van die lugversorger met die skakelaar vir die noodflikkerligte tussen dit gemonteer. Ander draai skakelaars vir die beheer van byvoorbeeld die waaier is tussen dit en die ratkieshefboom van die vyfspoed handratkas gemonteer. Die instrumentpaneel se afwerking is geriffel met ‘n sagte-aanraak afwerking en die lug uitlate aan die end kante word beklemtoon met rooi afwerking. Die afwerking van die deur panele is soortgelyk aan die van die instrumentpaneel.

Parkeer hulp is standaard en op die dik raam stuurwiel is skakelaars gemonteer vir beheer van toerusting terwyl die stuurwiel verstelbaar is vir reik afstand. Die handrem is binne maklike bereikbare afstand tussen die voorste sitplekke gemonteer. Twee lugsakke is binne in die motor se kajuit gemonteer en dien as hulpmiddel vir beskerming vir die insittendes ten tye van byvoorbeeld ‘n botsing.

Buite afwerking is van hoogstaande gehalte en allooi wielnawe met mat swart en silwer afwerking geskoei met Hankook Kinergy Eco2 bande met ‘n grootte van 175/60 R15, hou die voertuig op die pad. Deur die speke van die voorste wiele kan die geventileerde skywe van die skyfremme met ‘n grootte van 252mm gesien word en deur die speke van die agterwiele kan die rem trommels van 203mm gesien word. ‘n ABS remstelsel met EBD hulp verseker dat die Hyundai met gemak en veiligheid tot stilstand kan kom.

Al vier deure se deur handvatsels is dieselfde kleur geverf as die bakwerk terwyl die sykant spieëls se afwerking mat swart is. Wanneer daar voor om die motor beweeg word, is die skuins geboude “H” embleem van Hyundai in die middel bokant die sierrooster gemonteer. Die sierrooster vorm deel van die voorste buffer en chroom dwarsstroke word gebruik op die luginlaat gedeelte. Die hoofligte is deel van die voorste modderskerms en buffer en kolligte is aan die onderkant van die voorste buffer gemonteer.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar ‘n 1197 kub. sentimeter, dwars gemonteer, vier silinder, met multipunt elektroniese brandstof inspuiting, petrol kragbron in plek. Vier kleppe per silinder sorg dat brandstof ingelaat en uitlaat gasse uitgelaat word. Die boor en slag van die enjin is 71mm en 75,6mm met ‘n drukverhouding van 10,5 tot 1. Volgens die vervaarvaardiger is die brandstofverbruik 5,9l/100km, dit versnel van 0 tot 100km/u in 12,04 sekondes en die topsnelheid is 167km/u.Die krag wat beskikbaar is tussen 6000 en 6700 o.p.m. is 61kW en die wringkrag van 114 Nm is beskikbaar teen 4000 o.p.m. Die vyf spoed handratkas dryf die voorwiele aan. Met hierdie krag en wringkrag is die motor in sy element in die dorp/stad en ook op die snelweg. Op ruwe pad oppervlakte is dit minder goed maar nogtans is dit bruikbaar. ‘n Belangrike deel van die padgedrag is te wyte aan die beproefde onafhanklike, MacPherson stutte met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en die wringstaaf met spiraalvere op die agterste veerstelsel.

Wanneer daar agter om die voertuig beweeg word, is daar ‘n ingeboude mini drukvlerk op die agterste deksel gemonteer en die deksel maak oop tot op ‘n hoogte van 1985 mm. Vanaf die pad oppervlakte tot op laai hoogte is 735 mm en met die hoogte is dit nie ‘n probleem om bagasie te laai of af te laai nie. Groot agterligte sorg dat die motor duidelik sigbaar is van agteraf en die bekende “H” embleem is ook op die agterkant aangebring.

Hierdie is die ideale motor as ‘n eerste motor of as tweede motor in die gesin. Indien u hierdie grootte motor wil aanskaf kan u gerus u naaste Hyundai motorhandelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.