Kataloniër kry teenstand in Europese Parlement

Die leier van die separatiste in Katalonië het onverwagse teenkanting gekry uit die Europese Parlement waarvan hy ʼn sittende lid is.

Carles Puigdemont het op die voorpunt in Katalonië gestaan om die deelstaat onafhanklik te verklaar van Spanje, maar een dag na onafhanklikheid verklaar is, moes die vryheidsvegter na Vlaandere vlug om die Spaanse gereg te ontsnap.

Puigdemont is hartlik verwelkom in Vlaandere, en het vir geruime tyd in ʼn luukse woonhuis gewoon wat deur ʼn weldoener beskikbaar gestel is.

Later is Puigdemont verkies tot die Europese Parlement, en kon hy parlementêre immuniteit geniet wat die Spaanse regering verbied het om hom te laat deporteer terug na Spanje.

Europese parlementslede het egter nou in ʼn stemming Puigdemont se immuniteit gekanselleer en word hy tesame met twee ander vryheidsliewende  leiers blootgestel om na Spanje teruggestuur te word waar hulle verhoor sal word weens hulle bydrae tot die onafhanklikheidsverklaring en referendum wat gehou is in Katalonië.

Die parlementêre stemming wat gehou is, en die besluit om Puigdemont se immuniteit nietig te verklaar, kan egter teengestaan word in die Europese Hof, en die verwagting is dat die drie manne uit Katalonië die roete sal volg om nie teruggestuur te word na Spanje nie.

Puigdemont het gepoog om die onafhanklikheid referendum tot internasionale vlak te verhef, maar die stemming in die Europese Parlement het juis die besondere troefkaart oortref.