Een jaar van virus pandemie

Die Suid-Afrikaners het die eerste jaar sedert die eerste geval van koronavirus op 5 Maart 2020 oorleef, maar nie sonder pyn, hartseer en baie sterftes nie.

Meer as 50,000 mense het die lewe gelaat, sowat 1,5 miljoen het infeksie opgedoen, honderde sakeondernemings het hulle deure permanent gesluit, en 33% van die werkende mense het werkloos geraak en duisende het in armoede verval binne enkele dae.

Die gesondheidsdienste het gebuk gegaan onder geweldige druk, en die krisis is vererger weens die half opgeleide span wat in hospitale en klinieke moes regstaan om pasiënte so goed moontlik te versorg terwyl geen geneesmiddel beskikbaar was nie.

Groot en klein ondernemings het onnodig moes sluit weens die swak besluite van die regering. Honderde drankwinkels, restaurante en sigaret verkoopspunt moes sluit omdat die verbod op verkope vir maande geduur het terwyl smokkel handel floreer het.

Of die jaar wat nou voor is, sonder knelpunte sal wees, word betwyfel, en of baie sakeondernemings wat moes sluit, weer pogings gaan aanwend om weer op die been te kom, sal die tyd leer, maar dit was vir elke landsburger ʼn jaar van opoffering.

Hoe die regeerders die enorme staatskuld gaan aflos, weet niemand nie, maar Suid-Afrika sal soos ʼn geelslang, op sy maag seil vir die volgende dekade.

Dat die pandemie nog nie verby is nie, en die gevare van 2020 hulle kan herhaal in hierdie jaar, mag nie onderskat word nie, en met die wagwoord “Versigtig” moet ons die werk doen wat ons hand vind om te doen.