Duitse spaargeld styg met miljarde euro

Bundesbank

Die bedrag wat in privaat rekenings gehou word, het in Duitsland vermeerder met €182 miljard in die afgelope jaar, sê die Duitse Bundesbank .

Deskundiges sê die opgelope besparings in privaat rekenings is as gevolg van die vermindering in spandering en minder geleenthede om geld uit te gee omdat mense meer versigtig was tydens die pandemie wat onsekerheid gebring het.

Instansies wat geld uitleen, was ook meer versigtig weens die werkloosheid wat skielik ontstaan het, en mense wat geld leen was ook versigtiger omdat hulle onseker was oor wat die toekoms inhou.

Die Instituut vir Ekonomiese Navorsing in die land het ook daarna verwys en sê die besparings was veel groter as wat dit op enige ander jaar die geval was, en kan feitlik geheel en al toegeskryf word aan die pandemie wat die land vir maande tot stilstand geruk het.

Die moontlikheid bestaan dat die spaargeld vanjaar kan help om die ekonomie vinniger te laat groei as mense sou besluit om dit nou te spandeer op iets wat intussen nodig geword het.