Die verkwisting

Terwyl Suid-Afrika se sakelui, landbouers, nyweraars en mynhuise alle moontlik doen om weer ʼn ekonomiese bestel te vestig wat naastenby gelyk is aan wat dit was voor die pandemie die land getref het, is dit Eskom wat al die p[pogings kelder met sy beurtkrag.

Een van die grootste redes waarom die nasionale kragvoorsiener soos vele ander Staats-entiteite, die verkwisters is, word nou vir Suid-Afrikaners al duideliker.

Dit is nie net die Gupta-gemors nie, dit is ook nie net die sogenaamde Zuma-era se Staatskaping nie, en dit is ook nie net die onbekwame wat in senior poste aangestel is wat die kragvoorsiener tot bankrotskap gelei het nie.

Nee, dit is die derduisende oortollige, onnodige, en dikwels onkundige spul werkers wat aangestel word omdat baantjies vir boeties die hoofsaak is.

Nou, na twee dekades van uitbuiting van krag verbruikers, word besef dat die melkkoei gaan vrek as die massa melkers nie weggejaag word nie, en daarom gaan sowat 4,000 onnodige werkers in die pad gesteek word.

Dit is onbekend hoe lank die oortollige, onnodige, spul werkers in diens van Eskom was, en as dit reeds vir die afgelope twee dekades die geval is, dan kan bereken word dat daar miljarde Rand aan vergoeding spandeer is, terwyl die produktiwiteit deurgaans pateties was.

Dit is die soort van korrupsie wat nog wyd lê in ander staatsdepartemente, waar oorbevolking van personeel, met totaal onrealistiese hoé salarisse, die knelpunt is wat nie opgelos word nie.