Bangpraat storie

Hoog op die lys van debatte is weereens die eentonige onderwerp oor e-tol, en die betaling daarvan, of die weiering om te betaal met die moontlikheid dat hernuwing van bestuurslisensies ingestel gaan word.

Dit is hierdie bangpraat storie wat nie water hou nie. In die afgelope dekade is herhaaldelik gewaarsku dat wanbetalers van e-tol rekenings, is die hof gaan beland, maar nog geen motoris is ooit gedagvaar om in die hof te verskyn weens die wanbetaling van sy e-tol rekening nie.

Die vrees word nou, vir die hoeveelste keer, weer ingeboesem by motoriste dat die hernuwing van die bestuurslisensie nie moontlik sal wees as die rekening nie betaal is vir e-tol nie.

Ook dit is niks nuut nie, want die afgelope paar jaar is die dreigement geopper, maar tot hierdie dag is geen sentimeter vorentoe beweeg om dit moontlik te maak nie.

Die rede is redelik voor die hand liggend: dit sal nie water hou in die hof nie aangesien so ʼn stap deur Sanral as ongrondwetlik gesien kan word.

Die regering stamp sy kop nou gereeld teen dieselfde klip, met die gevolg dat niemand enige iets glo rakende die e-tol stelsel nie.

Die regering kon teen hierdie tyd miljarde Rand in die staatskas gehad het wat aangewend kon word om Suid-Afrika se paaie in ʼn puik toestand kon hou, maar helaas, die inwoners van hierdie land raak gewoond daaraan dat goeie advies selde toegepas word deur die regering.

ʼn Heffing op die brandstof prys sou al die ergernis vermy het wat nou bestaan – maar die waarskynlikste rede wat kan bestaan wat betref die e-tol stelsel, was die mooi bedrae aan besluitnemers wat korrup is.