Armeense regering keer staatsgreep

Die Eerste Minister van Armenië het die hoof van die land se weermag afgedank nadat gerugte ontvang is van ʼn beplande staatsgreep deur lede van die weermag.

Eerste Minister Nikol Pashinyan het blitsvinnig opgetree en die land se Hoof van Generale Staf,  Onik Gasparyan, van sy verpligtinge onthef weens beweerde beplanning van ʼn staatsgreep.

Die premier het onder geweldige druk gekom uit die weermag se militêre generaals se kant om te bedank weens die konflik situasie met Aserbeidjan.

Die optrede en eis om te bedank van die kant van die generale staf is deur die premier bestempel as die eerste poging tot ʼn staatsgreep wat die land in chaos kan laat.

Intussen het opposisiepartye die strate in gegaan en protes aangeteken teen die optrede van die premier, en self ook met plakkate en baniere sy bedanking geëis.