Werkloosheid styg, Voedsel duurder met hoër lone

TLU SA is geskok en teleurgesteld dat die Nasionale Minimumloon vir plaaswerkers van 1 Maart 2021 in werking tree. Die Minister van Werkskepping en Arbeid, mnr. Thulas Nxesi het gisteraand in die Staatskoerant aangekondig dat die minimumloon vir plaaswerkers met 16% tot R21,69 per uur toeneem.
TLU SA het in Desember 2020 kommentaar gelewer teen die implementering van die verhoogde minimumloon en aanbeveel dat die regering heeltemal van die voorstel moet afsien totdat die ekonomie weer groei toon en werkloosheid afgeneem het. Verskeie ander rolspelers het ook teen die voorstel kommentaar gelewer.
“Dit blyk dat die Nasionale Minimumloon Kommissie geensins ag geslaan het op enige van die kommentaar uit die landbousektor nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Die vermoë van werkgewers – landbouers – om hierdie vlakke van vergoeding te absorbeer, is bykans onmoontlik. Ons sidder om te dink wat die gevolge gaan wees vir werkloosheid in Suid-Afrika sodra hierdie aanpassing in werking tree.”
TLU SA koop nie die redenasie dat die minimumloon verhoog word om werkers in ‘n beter posisie te plaas nie. Die regering se skynheilige optrede is duidelik wanneer die Uitgebreide Openbare Werkskeppingsprogram en die privaatsektor se lone vergelyk word. Die staat betaal die helfte minder in vergelyking met ander sektore.
“As die regering regtig omgegee het oor die lot van werkers en werkloosheid in die land, sou die staat hulle aanslag tot arbeid heroorweeg het,” sê mnr. Geldenhuys. “As iemand verkies om teen R100 per dag te werk en sodoende ‘n inkomste verdien, eerder as om staat te maak op ‘n toelaag van R40 per dag, moet dit hulle keuse wees. Die land het nou meer as ooit tevore werksgeleenthede nodig, wat die vlakke van armoede sal verlig.
“Die landbousektor – en alle ander privaat bedrywe – moet eerder deur die regering ondersteun word om volhoubare werksgeleenthede te skep.”
TLU SA wil verbruikers waarsku dat die regering se duurder arbeidsloon slegs ‘n verdere styging in voedselpryse teweeg sal bring.