Staatsrede net vertoon vir paviljoen

President Cyril Ramaphosa se Staatsrede 2021 was bloot ‘n goeie vertoning vir die paviljoen, in ‘n verkiesingsjaar.

“Die president het uiters dinamiese aankondigings gemaak en baie gefokus op wat vir die mense gedoen is en nog gedoen sal word,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Presies wat van ‘n president verwag word in die jaar van ‘n verkiesing.

“Maar, bly hy in dieselfde land en ervaar hy ons werklikheid? Die ware toets vir die sukses van enige besigheid – en dan die regering – lê in resultate. Is alle Suid-Afrikaners werklik beter daaraan toe as ‘n jaar, tien jaar, twintig jaar gelede?”

Die president erken dat die land ‘n ekonomiese inspuiting nodig het en roem dan op sy ekonomiese herstelplan se sogenaamde suksesse. Maar, wat die land werklik nodig het is ‘n beleid wat ekonomiese belegging na Suid-Afrika lok.

“Sy benadering is baie idealisties maar wat mense in praktyk ervaar is wyd van sy siening verwyder,” sê mnr. Geldenhuys. “Werkloosheid en armoede is op ‘n rekord-laagtepunt, en die inperking was maar ‘n klein druppel aan daardie emmer. Regstellende aksie en swart ekonomiese bevoordeling is ‘n mislukking. Kyk maar na ons kragsentrales, SAA, die Landbank – enige instansie waar ras bo kundigheid gestel is. Klein oppervlakkige suksesstories gaan nie die land red nie.”

TLU SA is positief oor die president se aanslag om plaaslike produkte en plaaslik koop te bevorder, maar ongelukkig maak ‘n ongunstige arbeidsbeleid en onsekerheid oor privaatbesitreg dit baie moeilik vir entrepreneurs om hier besigheid te doen.

“In werklikheid word entrepreneurs gedwing om kapitaal die land uit te neem om ‘n volhoubare bestaan te maak,” sê mnr. Geldenhuys. “Nee wat, die Staatsrede – soos die Begrotingsrede – is ‘n gespeel met woorde om mense te paai.”