Rusland gereed om bande te breek met EU

Rusland het die afgelope naweek gesê hy sal sy bande met die lande in die Europese Unie verbreek indien die EU voortgaan met sanksies teen hom.

Die sanksies teen Rusland is ingestel nadat Moskou die opposisieleier, Alexei Navalny onregmatig gearresteer en in die tronk gestop het.

Die EU se senior diplomate het egter in reaksie daarop gesê die Russe wil wegbreek met die doel om Westerse lande in verdeeldheid teenoor mekaar te bring.

Die Russiese Minister van Buitelandse Sake, Sergey Lavrov, het te kenne gegee dat sy land gereed is om weg te breek van die bestaande goeie verhouding met die EU indien die dreigement van sanksies weens die Navalny-saak bewaarheid sou word.

Die internasionale krisis wat nou besig is om te ontwikkel rondom die Navalny aangeleentheid kan Rusland duur te staan kom, maar president Vladimir Poetin doen glo alles moontlik om te voorkom dat hy teen Navalny te staan kom in die komende verkiesing.

Poetin se belangrikste doelwit met die verkiesing is juis om te bewys dat steun aan die toeneem is vir sy presidentskap, en daarom moet Navalny uitgeskakel word.