President, praat asseblief minder

Suid-Afrika is al so moeg vir al die preek boodskappe wat vol beloftes is waarvan niks werklikheid word nie, en dan boonop nog moet sien hoe miljoene Rand se entstof verkwis word terwyl die land smag na goeie regering.

Die afgelope maande, byna 12 maande, het kiesers probeer om gehoor te gee aan die regering se versoeke en maatreëls om die koronavirus te oorwin.

Maar baie beloftes, baie korrupsie, baie onreg, en uitermatige swak landsbestuur het die kiesers vuisvoos gelaat.

Die president se gesanik van Donderdagaand is weer ʼn sprekende voorbeeld van iemand wat nie werklik weet hoe om die land te lei tot ʼn beter status nie.

Die koronavirus entstof skandaal waarby sowat R120 miljoen betrokke is, is maar een van die honderde gevalle van onkunde, en van ʼn willoosheid wat almal tot nadeel strek.

Wat het van baie werksgeleenthede geword, van die miljarde Rand wat belê gaan word om werk te skep vir die 30% werkloses, en wanneer word Zuma vasgevat soos wat enige ander wetsoortreder vervolg word?

 Wanneer word ANC regeerders en posbekleërs aanspreeklik gehou vir al die dinge wat verkeerd gedoen word in die land wat eens ʼn welvarende moondheid was.

Die versoek van ʼn politieke opponent is waarskynlik ʼn raak opmerking: President, praat asseblief minder en doen iets.