Motor rubriek – Mitsubishi Pajero Sport 2,4 D4 4×4 Exceed.

Vanaf die vroegste jare is die Mitsubishi bekend vir sy betroubaarheid, goeie afwerking, uitstekende padgedrag ensovoorts.

Die heel nuutste opgekikkerde weergawe van die Sport wat in Thailand gebou word, voldoen aan al die nodige vereistes en nog selfs meer. Van voor gesien lyk dit soos die spreekwoordelike “bulhond” wat gereed is om te storm. Heel eerste word die bekende ster embleem opgemerk in die middel van die sierrooster. Die hoofligte vorm ‘n eenheid met sierrooster en chroomstroke aan weerskante van die verkoeler luginlaat beklemtoon die ligte eenheid waarin onder meer die kolligte en flikkerligte gemonteer is. Verdere chroomafwerking aan die onderkant van die neus gedeelte voltooi die geheel prentjie van voor.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word kan daar min van die vier silinder, 2442 kub. sentimeter, diesel kragbron, met direkte elektroniese brandstof inspuiting stelsel, turbo aangejaagde, met tussen verkoeler gesien word want so netjies is die afwerking deurmiddel van plastiek deksels gedoen. Dubbel oorhoofse nokaste sorg dat vier kleppe per silinder wat oop en toegemaak word vir die brandstof inlaat en verbrande gasse se uitlaat. Die krag beskikbaar is 133 kW tussen 3500 en 4000 o.p.m. en die wringkrag is 430 Nm. teen 2500 o.p.m. Hierdie krag en wringkrag word na al vier wiele gestuur deurmiddel van ‘n agt spoed outomatiese ratkas en die elektroniese hulpmiddel wat beskikbaar is, is ESC en dit help sodat daar teen ‘n skotige opdraande weggetrek kan word. Die ratkas se werking is seepglad en daar moet gekonsentreer word om die oorskakeling te kan waarneem. Die Mitsubishi is op enige pad oppervlakte in sy element. Of dit in sand, op die snelweg, op plaas paaie is, enige plek kom dit tot sy reg en daarvoor sorg die permanente 4×4 rat skakeling.

Die ratkies-hefboom van die Pajero is in die middelkonsole met geborselde alluminium afwerking, tussen die twee voorste sitplekke gemonteer met beheer skakelaars vir verskeie van die gemonteerde toerusting bokant dit en ‘n aanraakskerm wat weer op sy beurt deel uitmaak van die middelste gedeelte van die instrumentpaneel. Weerskante van die aanraakskerm is die lug uitlate van die lugversorger en die radio wat ‘n laserskyf kan neem en bloutand huisves met verskeie luidsprekers, sorg vir die vermaak van die insittendes. Die leer bedekte, dikraam stuurwiel pas gerieflik in jou hande en op die stuurwiel is daar ‘n verskeidenheid van skakelaars gemonteer waarmee die toerusting beheer word. Een van verskeie lugsakke is in die middel van die stuurwiel gemonteer en deur die boonste gedeelte van die stuurwiel kan die instrumente wat regvoor die bestuurder gemonteer is, gelees word. ‘n Groot toereteller met die snelheidsmeter vorm deel van die instrumentpaneel met kleiner instrumente aan weerskante. Gerieflike sitplekke wat met leer bedek is, bied ondersteuning aan al die strategiese plekke van jou liggaam. Die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar en selfs met die sitplek op sy verste terug geskuif is, is daar genoegsame plek beskikbaar vir die passasiers se bene. Die agterste sitplek se leunings verdeel in ‘n verhouding van 60:40 en wanneer die leuning plat gevou is verhoog die bagasieruimte van 392 liter na 1304 liter. Geborselde alluminium is gebruik op die elmboog stutte van die deure en die vier deure se vensters word elektries beheer.

Om in die Pajero in te klim, is daar sykant trappe onder die deure gemonteer en die sykant afwerking met die deur handvatsels wat dieselfde kleur as die bakwerk geverf is, vorm ‘n eenheid met die bakwerk. Die 18 duim allooi wielnawe is geskoei met Toyo Open Country 265/60 R18 bande en dit verseker dat die vertrekhoek van die Pajero aan die voorkant 30 grade is en aan die agterkant is dit 24 grade.

Ten einde ‘n voertuig van 2075kg tot stilstand te bring moet daar goeie remme in plek wees en ‘n ABS remstelsel met EBD en EBA hulp word daarvoor ingespan. Op die voorwiele is daar 320mm geventileerde skywe en op die agterwiele is daar 315mm geventileerde skywe gemonteer. Dit verseker dat die voertuig nie net met gemak nie maar ook met veiligheid tot stilstand gebring kan word.

Vir die veerstelsels word daar op die voorste veerstelsel van dubbel wensbene, spiraalvere en anti-rolstaaf gebruik gemaak en op die agterste veerstelsel met ‘n lewendige agteras, word spiraalvere gebruik.

Die geronde agterklap met ‘n ingeboude drukvlerk help dat stof tot die minimum beperk word op die agterklap en wanneer die agterste klap oopgemaak word, is die hoogte 760 mm. Die afwerking aan die agterkant is van hoogstaande gehalte en die vertikaal gemonteerde agterligte verseker dat die Sport duidelik sigbaar is vir verkeer van agter. Die naam, Pajero Sport is in die linkerkantse onderste hoek gemonteer.

Hierdie is die ideale voertuig vir die natuur liefhebber en dit kan ‘n woonwa met gemak sleep. Sou u dus in die mark wees vir hierdie tipe van voertuig, kan u dit gerus op u aankopelys plaas vir oorweging.