Motor rubriek – Ford Tourneo Custom 2,0SIT SWB Limited

Wanneer ‘n mens die Ford Tourneo onder oë neem, dan kan van ons ouer lesers se gedagte moontlik terug gaan na die jare toe die Ford Transit op ons land se paaie sigbaar was. Dit was ‘n baie gewilde voertuig en dit is die geval met die Tourneo ook. Dit is ‘n verbruikers vriendelike voertuig en boonop is dit doelmatig. Daar is ‘n onbeperkte aantal gebruike daarvoor.

‘n 1996 kub. sentimeter, vier silinder, inlyn, met direkte elektroniese brandstof inspuiting stelsel, turbo-aangejaagde met tussen verkoeler, diesel kragbron word gebruik en wanneer die tegniese besonderhede onder oë geneem word, is dit indrukwekkend. Die krag wat voorsien word is 136 kW tussen 3500 en 4800 o.p.m. en die wringkrag is 415 Nm. teen 1500 o.p.m. Met daardie hoeveelheid krag en wringkrag beskikbaar by lae toere, is dit vir die Ford moontlik om volgens kenners van 0 tot 100 km/u te versnel in 12,39 sekondes en die topsnelheid is 180 km/u volgens die vervaardiger en ook volgens die vervaardiger is die brandstof verbruik 6,7l/100km. Terwyl die brandstofhouer 80 liter diesel kan neem.

‘n Ses spoed outomatiese ratkas word ingespan om die kragoorbrenging na die voorwiele te hanteer. Die oorskakeling daarvan vind seepglad plaas en dit is bykans onmoontlik om die oorskakeling waar te neem. ESC hulp word verleen en daar is selfs voorsiening voor gemaak dat daar met min moeite teen ‘n skotige opdraande weggetrek kan word.

Veiligheid is nie agterweë gelaat nie en binne in die voertuig is daar verskeie lugsakke gemonteer met onder andere een in die middel gedeelte van die dik raam stuurwiel en om die voertuig tot stilstand te bring word daar gebruik gemaak van ‘n ABS remstelsel met 288 mm geventileerde skywe op die voorwiele en 288 mm soliede skywe op die agterwiele. Met ‘n gewig van 2470 kg., is dit noodsaaklik dat daar remhulp benodig word en daarvoor word daar EBD en EBA hulp ingespan.

Allooi wielnawe geskoei met Michelin Agilis 215/60 R17 verseker dat die padgedrag van hoogstaande gehalte is en selfs op ruwe pad oppervlakte, is die padgedrag goed. Weens die grootte van die Tourneo moet dit aanvaar word dat dwarswinde ‘n invloed op die voertuig gaan hê maar deur die nodige versigtigheid aan die dag te lê, is daar nie probleme nie.

Die ingeneurs van Ford het verseker dat die voertuig goed aangewend kan word. Dit is ruim en met die tweede ry sitplek wat die passasiers na agter laat kyk, kan die voertuig ingespan word om selfs konferensies op die pad, in die voertuig te laat plaasvind. Die twee rye agterste sitplekke kan verwyder word en dan vergroot die laairuimte van 512 liter na 2416 liter. ‘n Verdere gerief is die groot vensters wat verseker dat indien jy ‘n natuurliefhebber is en jy bring byvoorbeeld ‘n besoek aan die wildtuin, is die sig na buite, bykans onbeperk. Vir die gerief van die agterste passasiers is daar ‘n sykant trap aangebring vir die in/uit klim slag en met die agterste skuifdeure wat groot oopmaak, kan daar met min moeite in en uitgeklim word.

Binne gerief is nie agterweë gelaat nie. Die ratkies hefboom vorm deel van die instrumentpaneel en regvoor die bestuurder is daar ‘n verskeidenheid van instrumente gemonteer met die aanraakskerm in die middel van die instrumentpaneel, binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder en die voorste passasier. Van die toerusting wat gemonteer is bestaan uit ‘n lugversorger, radio met bloutand en stembeheer, snelheidsbeheer, elektriese beheer vir die voorste vensters, rit rekenaar, meganiese verstellings vir die bestuurder se sitplek, stuurwiel verstellings vir reik en hoogte afstand en beheer skakelaars is op die stuurwiel gemonteer vir beheer van die toerusting. Die windskermveërs en ligte skakel outomaties aan en ‘n banddruk meter vorm deel van die toerusting.

Vir ‘n voertuig van hierdie grootte is die sleurkoëfisient redelik min en dit is 0,36. Wanneer daar na die bouvorm van die neusgedeelte kyk is dit verstaanbaar want die hoofligte vorm deel van die voorste modderskerm en die bekende Ford sierrooster. Die kolligte is in die onderste gedeelte van die voorste buffer gemonteer die onderste luginlaat vorm deel van die buffer.

Wanneer daar agter om die voertuig beweegword, is die afwerking aan die agterkant van hoogstaande gehalte. Lang ligte word gebruik en die bagasie ruimte se agterste deksel maak oop tot op ‘n hoogte van 1,96 meter. Die hoogte vir die laai van goedere bokant die pad oppervlakte is 583 mm en bagasie kan dus met min moeite gelaai word.

Hierdie voertuig kan deur moeder gebruik word om die kinders skool toe te neem en soos reeds genoem, dit is ‘n veeldoelige voertuig en indien u in die mark is vir hierdie soort voertuig, kan u dit gerus op u aankopelys plaas en u naaste Ford handelaar gaan besoek.