Landbouers vra steun teen minimum loon

TLU SA doen ‘n beroep op landbouers, plaaswerkers en ander Suid-Afrikaners wat besef dat ‘n minimum loon vir plaaswerkers op die oomblik nie haalbaar is nie, om ‘n dispuut daaroor te steun en sodoende grootskaalse werkloosheid en ‘n styging in voedselpryse teen te werk.
TLU SA het ‘n week gelede ‘n dispuut verklaar met die minister van arbeid en indiensneming, mnr. Thulas Nxesi in verband met die voorgestelde verhoogde minimum loon vir plaaswerkers. Die dispuut word deur die VF Plus, LWO Werkgewersorganisasie en ander rolspelers in landbou ondersteun.
Die minister het ontvangs erken van die aanvanklike skrywe hieroor maar ‘n datum om die aangeleentheid te bespreek is nog nie vasgestel nie. TLU SA sal tydens die vergadering versoek dat die implementering van die minimum loon vir plaaswerkers op ys geplaas word totdat die dispuut bygelê is.
“Hierdie aangeleentheid is nie net ‘n landbou-probleem nie, maar inderdaad ‘n Suid-Afrika probleem,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “As die boerdery nie wins maak nie, moet daar aanpassings gemaak word – hetsy die loonrekening te verminder deur werkers af te lê of heeltemal weg te doen met arbeidsintensiewe vertakkings soos groente- of wynverbouing. Dit sal dan lei tot ‘n styging in die vraag, maar tekort in lewering van hierdie produkte – wat volgens ekonomiese beginsels lei tot verhoogde pryse.”

Belangstellende persone kan die dispuut steun by hierdie skakel: https://www.tlu.co.za/minimumloon/.

TLU SA vermoed dat die saak tot ‘n regsaksie sal lei en enige persoon wat graag wil bydra om die regsproses finansieel te ondersteun kan inbetalings aan die TLU SA Eiendomsregfonds maak.
“Die uitnodiging aan ander rolspelers in die landbou waardeketting om hierdie dilemma gesamentlik te hanteer, is steeds op die tafel,” sê mnr. Geldenhuys.