Italië kry nuwe regering

Die voormalige hoof van die Europese Sentrale Bank, Mario Draghi, het amptelik ingestem om as Italië se volgende Eerste Minister diens te doen.

Die Italiaanse volk is in ʼn politieke krisis gedompel nadat die koalisie regering uitmekaar gespat het.

Draghi het tydens sy besoek aan die president se kantoor ingewillig om as Eerste Minister op te tree en ʼn nuwe regering saam te stel.

Die verwagting is dat hy as nuwe premier nie net politieke deskundiges in sy kabinet sal opneem nie, maar ook gebruik sal maak van sy wye kontakte buite die politiek om die regering saam te stel.

Die bekende ekonoom wat die Europese Sentrale Bank suksesvol bestuur het, word ook gesien as die sterkste kandidaat om die land uit die politieke krisis te lei.

Benewens die ernstige krisis op die gebied van gesondheidsdienste wat deur die koronavirus pandemie veroorsaak is, het die land ook groot finansiële probleme wat die hoop laat ontstaan dat hy die regte span sal saamstel om die krisis te beëindig.