Die storm in die coke-n-cola glas

Objektief gesproke is die bedryf van sosio-politieke veldtogte deur ondernemings nooit ʼn goeie ding nie.

Terwyl enige samelewing kan verwag dat ander rolspelers die waardes en norme van daardie samelewing behoort te reflekteer, uit te leef en te help bevorder, is dit van wesensbelang dat dit navolgenswaardige en suiwer waardes en norme sal wees.

Juis hierin misluk ál die sosiale eksperimente van die humanisme.

Maar wat moet ons hiervan dink?

Terwyl die oorweldigende negatiewe reaksie spreek van geregverdigde woede vir die naakte en onregmatige diskriminasie, verloor baie mense die groter konteks uit die oog.

Dit wat hierdie – en verreweg die meeste ander globale (én plaaslike) maatskappye – doen is ongelukkig niks nuut nie.

Dit is ook bloot die normale vrug wat spruit uit die verrotte wortels van die post-modernisme en humanisme wat die onderlê.

Hierdie is verder bloot die sosio-ekonomiese vergestalting van die haat-veldtog van die vryheids teologie.

Ras is bloot die gerieflike ettiket wat die liberale dampkring hang om die afguns en haat (teen die vlyt en vrug daarop) van die tradisioneel-konserwatiewe erfgename van die Reformasie.

Ons moet die aanslag dus reg verstaan, voordat ons effektief weerstand kan bied.

Hierdie proses, om sogenaamd “woke” (die Amerikaanse gonswoord vir sogenaamde “bewustheid” van onderdrukking) te wees, is reeds etlike jare besig om die globale mark en sosiale maatskappy te vergiftig.

Om dus nou so luid te protesteer is in sekere sin te min, te laat.

Dit is voorts belangrik om die parallele te sien met SEB – swart bemagtiging in SA is in wese dieselfde, maar tog ondersteun die oorgrote meerderheid van mense hierdie misdadige beleid.

Is daar ‘n redelike teenvoeter hiervoor?

INDERDAAD: eie ekonomie eerste is die antwoord.

Die tragiese werklikheid is egter dat hierdie antwoord was reeds in die jare negentig die oplossing, tog spog duisende klein- en medium ondernemings met hulle SEB graderings, met hulle “Proudly South Africa” reënbogies op hulle produkte.

Maar wanneer dit hulle pas, wil hulle vinnig deel wees van “ons mense”; wil hulle die behoudende publiek vra “ondersteun jou eie” – net om kort na elke aanslag weer met die vyand te heul ter wille van geld!

Dieselfde inhaligheid wat na 1966 ons land stelselmatig vergiftig en uiteindelik verwoes het, is ongelukkig nog lewenskragtig in die besluite van meeste.

Het die besware teen rassisme in sport, rassisme by Spur, rassisme in die mediareus Multichoice se beleid enige standhoudende verandering teweeg gebring?

TRAGIES “NEE” – juis omdat meeste mense graag in die emosie van die oomblik meegesleur word, sonder om die groter konteks reg te eien, sonder om met beginsel-maatstawwe na die sake te kyk.

Dit maak ongelukkig dat die kortstondige reaksie teen LIBERAAL-gedrewe, institusionele rassisme weinig meer as ʼn storm in die coke-n-cola glass al wees.