Zimbabwiërs stroom in deur grenspos

Honderde inwoners, klein en volwassenes, stroom deur die grenspos by Beitbrug, maar is slegs ʼn gedeelte van die totale instroming uit die buurland.

Onbevestigde berigte lui dat veel groter getalle van Zimbabwiërs die grens oor gaan waar die omstrede heinings geknip is om maklike deurgang te verkry.

Die grenspos word ook oorstroom deur mense wat na SA wil kom, waarvan ʼn groot persentasie waarskynlik werkers is wat na die vakansie weer terugkeer om hulle werk te doen by instansies wat Maandag 4 Januarie weer hulle deure oopgemaak het.

Met die aankondiging dat alle grense gesluit word weens die pandemie, het die Zimbabwe werkers in groot getalle na die grenspos gestroom, maar waarnemers sê diegene wat summier oor die grens gesluip het is veel meer in getal as wat by die grenspos aangekom het.

Waarnemers wys daarop dat diegene wat deur die grenspos beweeg, getoets is vir infeksie, terwyl diegene wat deur die heining sluip, nie getoets is nie. Die bewering is gemaak dat mense wat by die grenspos terug gestuur word weens infeksie, ook deur die heining na Suid-Afrika sluip.