Vredesamesprekings vir Afghanistan hervat

Die regerings van Afghanistan en leiers van die Taliban het in Katar aangekom om die vredesonderhandelings te hervat in die land se hoofstad Doha.

Die hervatting volg na ʼn onderbreking van sowat drie weke waartydens die onderskeie partye klaring moes kry vir wat voorgelê is aan mekaar en wat deel kan vorm van die moontlike vredesverdrag.

Die onderhandelings volg op die besluit van president Donald Trump om Amerikaanse troepe uit die land te onttrek.

Dit het meer as drie maande se gesprekke geneem om die regering en die Taliban leiers sover te kry om saam te stem oor die prosedure wat gevolg gaan word om die onderhandelings te voer, en versigtige benaderings is nodig om te verhoed dat die partye uit die onderhandelings sal padgee oor prosedures wat nie stiptelik nagekom word nie.

Die onderhandelings bevat ondermeer die sensitiewe onderwerp van ʼn nuwe “na ooreenkoms die vestiging van ʼn Afghan-Islamitiese regering “ wat saamgestel word deur beide partye om te regeer.