Virus: Pasop vir derde pandemie

Die gegewens wat Dinsdag vrygestel is oor nuwe infeksies, wat n drastiese daling in getalle getoon het, is geen rede om te dink alles is reg en die virus se leeftyd is verby nie.

Dit is die waarskuwing van ʼn bekende geneeskundige wat sê die daling na 4,551 nuwe infeksies binne 24 uur is nie noodwendig ʼn korrekte weergawe van wat werklik gebeur nie, en mense moet eerder bedag wees op die moontlikheid dat die derde pandemie binnekort gaan toeslaan.

ʼn Derde pandemie het in verskeie Europese lande begin, en het Duitsland se regering gedwing om met nuwe, strenger maatreëls te probeer voorkom dat infeksies weer die hoogte inskiet.

Ingeligte bronne wys daarop dat een of twee dae na mekaar se daling in nuwe infeksies geensins gesien moet word as die draaipunt nie, want presies dit was die geval na die eerste pandemie, en almal was houtgerus tot die tweede pandemie, met sy nuwe variant van die koronavirus, op SA se bevolking toegeslaan het.

Nuwe infeksies het dramaties gestyg en enkele kere meer as 18,000 per 24 uur is aangemeld, wat met ʼn derde pandemie weer kan gebeur, is gesê.